Instagram se medestigters bedank

Instagram se medestigters bedank

Die besluit deur die medestigters van Instagram, Kevin Systrom en Mike Krieger om te bedank is deur sommige bronne verbind met die spanning wat daar met die Facebook-stigter, Mark Zuckerberg heers.

Facebook het die platform waarop foto’s en video’s gedeel kan word in 2012 gekoop.

Systrom en Krieger sê in hul amptelike aankondiging hulle vertrek om weer hulle nuuskierigheid en skeppende vermoëns te ontdek.

Zuckerberg het in ʼn verklaring gesê dat hy dit baie geniet het om saam met hulle te werk.

Kriminoloog sê polisielede het ʼn baie groter kans om in ʼn motorongeluk te sterf as om vermoor te word

Kriminoloog sê polisielede het ʼn baie groter kans om in ʼn motorongeluk te sterf as om vermoor te word

ʼn Kriminoloog sê moord hou nie die grootste gevaar vir polisiebeamptes se lewens in nie en moet nie gebruik word om die misbruik van mag te regverdig nie.

Altesaam 28 SAPD-lede is in die 2017/18 finansiële jaar aan diens vermoor.

Die Instituut van Sekerheidstudies se Andrew Faull sê die lede van die Suid-Afrikaanse Polisie staan ʼn aansienlik kleiner kans om vandag vermoor te word, as dertig jaar gelede.

Faull sê die mees algemene oorsaak van dood onder polisiebeamptes is motorongelukke wanneer hulle van diens is, só die maklikste manier om polisielewens te red is om hul bestuursgewoontes en -vermoë op die pad te verbeter.

 

Verhoor van Kaapstadse man weens die moord op sy dwelmverslaafde seun begin vandag

Verhoor van Kaapstadse man weens die moord op sy dwelmverslaafde seun begin vandag

Die verhoor van ʼn man van Kaapstad in verband met die moord op sy dwelmverslaafde seun, begin vandag in die Mitchellspleinse Streekhof.

Die 62-jarige Sedick Abrahams word daarvan aangekla dat hy die 28-jarige Clinton in Januarie tydens ʼn argument in hul huis doodgesteek het.

Hy voer aan dat hy uit noodweer opgetree het.

Die saak herinner aan dié van Ellen Pakkies, ook van Kaapstad, wat haar tik-verslaafde seun, Abie, in 2007 verwurg het.

Sy is skuldig bevind aan moord en het ʼn opgeskorte vonnis en gemeenskapsdiens ontvang.

ʼn Rolprent oor Pakkies se storie word tans landswyd in teaters vertoon.

 

Betoging in Kaapstad: 8 betogers in hegtenis geneem

Betoging in Kaapstad: 8 betogers in hegtenis geneem

Ten minste agt betogers is in hegtenis geneem nadat die polisie in Kaapstad rubberkoeëls en skokgranate in verskeie gebiede, insluitend Kensington en Bonteheuwel, gebruik het om betogers uiteen te jaag.

Inwoners van verskeie woonbuurte het die strate ingevaar om te betoog teen bendegeweld en hoë vlakke van werkloosheid.

Die stad se JP Smith sê die betogings is onwettig.

Intussen is die diens by die Bellville taxi-staanplek steeds opgeskort ná laasweek se geweld.

Die Wes-Kaapse LUR vir Vervoer, Donald Grant, sê die verbod sal slegs opgehef word sodra strydende taxi-verenigings hulleself tot vrede verbind.

En in KwaZulu-Natal het pendelaars vandag gesukkel om by die werk te kom aangesien alle Metrorail-dienste in die provinsie opgeskort is.

Die passasierspooragentskap, Prasa, sê die besluit is genoodsaak deur wydverspreide vandalisme.

Binnelandse Sake vereenvoudig die reisreëls vir buitelandse minderjariges

Binnelandse Sake vereenvoudig die reisreëls vir buitelandse minderjariges

Die minister van Binnelandse Sake, Malusi Gigaba, sê hulle is besig om die reëls oor reisende minderjariges uit die buiteland te vereenvoudig, om ontwrigting vir wettige reisigers te beperk.

Ramaphosa het die veranderinge goedgekeur in ʼn poging om toerisme ʼn hupstoot te gee en sakereise te vergemaklik.

Gigaba het vandag tydens ʼn mediavoorligting oor die wysiging van visa-regulasies in Pretoria gesê ʼn internasionale reisinligtingstuk sal volgende maand uitgereik word.

Gigaba sê hulle is besig om onderhandelinge met lande soos Kuba, die Palestynse Staat, die Verenigde Arabiese Emirate, Ghana, Koeweit en Marokko af te handel met die oog op ooreenkomste vir die afstanddoening van visas.

Hy sê hy is ook besig om visa-vereistes vir lande soos Indië en Sjina te vereenvoudig.

Suid-Afrikaners gaan voor die einde van Mei stembus toe

Suid-Afrikaners gaan voor die einde van Mei stembus toe

Suid-Afrika sal voor die einde van Mei volgende jaar ʼn algemene verkiesing hou.

President Cyril Ramaphosa het dié nuus bekend gemaak tydens ʼn vergadering van die Raad vir Buitelandse Betrekkinge waar hy ʼn lesing gehou het vir uitgelese sakelui in New York.

Ramaphosa sê aangesien groot groepe ANC-ondersteuners wat die party die rug gekeer het, nou weer terugkeer, is die party verseker van ʼn maklike oorwinning.

400-jaaroue skeepswrak in Portugal gevind

400-jaaroue skeepswrak in Portugal gevind

ʼn Vierhonderdjaaroue skeepswrak wat aan Portugal se Atlantiese kus gevind is, word gesien as ʼn belangrike argeologiese ontdekking.

Die vaartuig is 12 meter onder die wateroppervlak gevind, tydens baggerwerk by die monding van die Tagus-rivier naby die hoofstad Lissabon.

Kenners vermoed dat die skip tussen 1575 en 1625 gesink het, terwyl dit betrokke was by lonende speseryhandel tussen Portugal en Indië.

Gemeenskappe op die Kaapse Vlakte betoog teen bendegeweld en werkloosheid

Gemeenskappe op die Kaapse Vlakte betoog teen bendegeweld en werkloosheid

Die polisie in Kaapstad het rubberkoeëls en skokgranate in verskeie gebiede, insluitend Kensington en Bonteheuwel, gebruik om betogers uiteen te jaag.

Inwoners van verskeie woonbuurte het die strate ingevaar om te betoog teen bendegeweld en hoë vlakke van werkloosheid.

Die stad se JP Smith sê die betogings is onwettig.

Thabo Mbeki sê die ANC het sy geskiedkundige waardes in die gronddebat versaak

Thabo Mbeki sê die ANC het sy geskiedkundige waardes in die gronddebat versaak

Die voormalige president Thabo Mbeki sê die ANC het sy geskiedkundige waardes van nierassigheid versaak, deur die gronddebat as ʼn swart teen wit debat op te stel.

Sy referaat oor die grondkwessie, wat deur die Thabo Mbeki-stigting uitgegee is, beskuldig die ANC daarvan dat sy huidige benadering ʼn verskuiwing is van die party se waardes wat deur die 106 jaar van sy bestaan gehuldig is.

Die Sowetan berig dat Mbeki aanvoer dat terwyl die grondvraagstuk belangrik is, dit op ʼn wyse hanteer moet word wat Suid-Afrikaners verenig.

Busbestuurder in hof ná noodlottige busongeluk in Limpopo

Busbestuurder in hof ná noodlottige busongeluk in Limpopo

ʼn Busbestuurder sal vandag in die hof in Polokwane, Limpopo verskyn ná Vrydag se noodlottige busongeluk buite die stad.

Tien mense is dood toe die voertuig op die N-1 omgeslaan het.

Die polisie sê die bestuurder is in hegtenis geneem toe hy probeer het om die grens oor te steek, nadat hy en 50 ander mense na die hospitaal toe geneem is.

Die man word aangekla van strafbare manslag.