Indonesiese lugvaartowerheid sal ondersoek instel na al die Boeing 737 Max 8-vliegtuie

Indonesiese lugvaartowerheid sal ondersoek instel na al die Boeing 737 Max 8-vliegtuie

Die Indonesiese lugvaartowerheid sal ondersoek instel na al die Boeing 737 Max 8-vliegtuie.

Dit volg na Maandag se ramp toe ʼn vliegtuig kort na opstyging vanaf die hoofstad Jakarta in die see neergestort het.

Nie een van die 189 mense aan boord het oorleef nie.

Hoewel 26 liggame reeds herwin is en wrakstukke oor ʼn wye gebied versprei is, is die vliegtuigwrak nog nie gevind nie.

CNN berig dat die soek- en reddingspogings uitgebrei is tot ten minste 400 vierkante seemyl.

Pretoria: 14 in die hospitaal opgeneem nadat hulle ʼn onbekende middel gerook het

Pretoria: 14 in die hospitaal opgeneem nadat hulle ʼn onbekende middel gerook het

Veertien mense waaronder skoolkinders, is in Pretoria in die hospitaal opgeneem, nadat hulle ʼn onbekende middel gerook het.

Die pasiënte het simptome getoon soos naarheid, brakery, bewussynsverlies, ooraktiewe optrede, toevalle en diarree nadat hulle die middel met die straatnaam “herbal blend” gebruik het.

Die polisiewoordvoerder, kaptein Augustinah Selepe, sê die middel word in ʼn klein swart sakkie verpak en is soortgelyk aan dagga.

Die Wes-Kaapse regering oorweeg dit om George en Knysna tot rampgebiede te verklaar

Die Wes-Kaapse regering oorweeg dit om George en Knysna tot rampgebiede te verklaar

Die Wes-Kaapse regering sal vandag besluit of hulle die Knysna- en George-gebiede in die Suid-Kaap, wat deur brande geteister word, as rampgebiede moet verklaar.

Altesaam agt mense, almal glo van dieselfde gesin, het reeds omgekom in die brand.

Die woordvoerder van Plaaslike Regering, James-Brent Styan, sê die weersomstandighede is nou tot die brandbestryders se voordeel.

"Regering moet werkloosheid- en werkskeppingsprojekte eerste stel"

“Regering moet werkloosheid- en werkskeppingsprojekte eerste stel”

AgriSA sê die Regering moet werkloosheid- en werkskeppingsprojekte in landelike gebiede eerste stel.

Die nasionale werkloosheidsyfer het in die derde kwartaal vanjaar tot 27,5% gestyg, terwyl landbou ʼn duisend werksgeleenthede in dieselfde tyd afgestaan het.

AgriSA se Jahni de Villiers sê vir elke Rand wat die regering op werkskepping in die landbou bestee, sal die terugkeer van werksgeleenthede enige ander sektor uitstof.

Die Vrystaat bly in die Curriebeker Premierliga

Die Vrystaat bly in die Curriebeker Premierliga

Die Vrystaatse Cheetahs het hul plek in die Curriebeker Premierliga behou, toe hulle die Eersteliga-kampioen, die SWD Arende, met 36-5 verslaan het in ʼn promosie-relegasie-wedstryd in Bloemfontein.

Die tuisspan het in die eerste helfte drie drieë gedruk om teen rustyd met 19-0 voor te loop.

Hulle het nog drie in tweede helfte bygevoeg.

In antwoord kon die Arende slegs een drie druk.

Kaapstad lê klagtes teen Patricia de Lille

Kaapstad lê klagtes teen Patricia de Lille

Die stad Kaapstad se speaker, Dirk Smit, het strafregtelike klagtes teen burgemeester Patricia de Lille en die burgemeesterskomiteelid, Brett Herron, aanhangig gemaak.

De Lille sal na verwagting vandag die amp ontruim.

Volgens TimesLive is die klagtes ingedien nadat die raad twee verslae van ʼn regsfirma oor die wanbestuur van die metro aanvaar het.

De Lille sal na verwagting vanmiddag ʼn aankondiging doen oor die jongste verwikkelinge.

Haar opvolger, Dan Plato, sal na verwagting oormôre beëdig word.

"LUR is rede hoekom leerders nie by skole geplaas is vir volgende jaar nie"

“LUR is rede hoekom leerders nie by skole geplaas is vir volgende jaar nie”

Die Vryheidsfront Plus sê die Gautengse LUR vir Onderwys, Panyaza Lesufi, is die rede hoekom 23 000 leerders in die provinsie nog nie by skole geplaas is vir volgende jaar nie.

Die party skryf dit toe aan die feit dat hy nagelaat het om genoeg skole te bou.

Die VF-Plus sê die provinsie se Departement van Onderwys sit met ʼn krisis.

Die party sê behalwe vir die duisende leerders wat nie geplaas is nie, is daar ook meer as 21 000 leerders wat uit die departement se stelsel verwyder is, omdat hulle nie die toepaslike dokumente ingedien het nie.

Die brande by George is ten spyte van ligte reën steeds nie onder beheer nie

Die brande by George is ten spyte van ligte reën steeds nie onder beheer nie

Brandbestryders is vandag steeds in ʼn stryd gewikkel om die brande in die berge by George in die Suid-Kaap te blus, ten spyte van ligte reën oornag.

Die amptelike dodetal staan reeds op agt met al die ongevalle wat op Farleigh naby Karatara voorgekom het.

Die Montagupas tussen George en Herold is steeds gesluit.

Die brande het reeds sowat 16 600 hektaar vernietig en het die voorbedagte ontruiming van drie woongebiede en sowat 1 500 mense tot gevolg gehad.

Werk met Vuur se Lauren Howard sê meer as 200 brandbestryders is tans in die gebied ontplooi.

Bekende advokaat is in Kaapstad vermoor

Bekende advokaat is in Kaapstad vermoor

ʼn Bekende verdedigingsadvokaat is vandag buite die Reddam House School in Groenpunt, Kaapstad doodgeskiet.

Dit het gebeur terwyl hy besig was om sy agtjarige seun by die skool af te laai.

Die advokaat is glo Pete Mihalik, wat van die voorste bendelede in hofsake verteenwoordig het.

Die polisie se Noloyiso Rwexana sê speurders van die teen-bende-eenheid en misdaadtoneel-deskundiges van die SAPD is besig om die toneel te fynkam vir leidrade.

"Mpumalanga is die grootste lugbesoedelingsbrandpunt ter wêreld"

“Mpumalanga is die grootste lugbesoedelingsbrandpunt ter wêreld”

Die organisasie, Greenpeace Afrika, sê sy jongste satellietinligting dui daarop dat Mpumalanga die grootste lugbesoedelingsbrandpunt ter wêreld is.

Daar is 12 steenkoolkragsentrales in die provinsie.

Greenpeace se Melita Steele sê Suid-Afrika is ʼn beduidende wêreldbrandpunt met sy hoë voorkoms van steenkoolkragsentrales en sy swak lugbesoedelingstandaarde.

Sy sê die regering sal dringend vorendag moet kom met ʼn aksieplan om miljoene mense te beskerm.