Protesoptog beteken dat Charles-straat vir motoriste gesluit sal wees

Protesoptog beteken dat Charles-straat vir motoriste gesluit sal wees

Inwoners in die Rosestad word gemaan om die area rondom die glaspaleis en veral Charles-straat vandag te vermy weens ‘n protes-optog na die Mangaung Metro se kantore oor onder andere swak dienslewering en wanbesteding.

Volgens die plaaslike verkeersowerheid sal protesgangers omstreeks half-twaalf vanuit Batho se rigting by die glaspaleis aankom en is die kans goed dat Charles-straat vir verkeer gesluit sal wees.

Motoriste word gevra om Charles-straat dus te vermy en eerder van Nelson Mandela-rylaan gebruik te maak indien nodig.

Nasionale Vervolgingsgesag het nog nie die Guptas afgeskryf nie

Nasionale Vervolgingsgesag het nog nie die Guptas afgeskryf nie

Die Nasionale Vervolgingsgesag sê wetstoepassingsagentskappe is steeds in noue-samewerking met hul ampsgenote in die Verenigde Arabiese Emirate en Indië om voldoende getuienis te bekom teen diegene wat by korrupsie in die Estina plaasprojek in die Vrystaat betrek word.

Die NVG het die aanklagte teen die omstrede Gupta-familie, hul sakevennote en sekere amptenare in die Vrystaatse departement van Landbou voorlopig laat vaar.

‘n Woordvoerder van die NVG in die Vrystaat sê hulle was genoodsaak om die saak van meer as R220 miljoen vir eers op ys te plaas, om verdere bewyse in te samel.

Die situasie is ingewikkeld omdat dit buite die landsgrense strek.

Suid-Afrikaanse maatskappye het van die geld vir die projek na maatskappye in die buiteland oorgeplaas.

Die weduwee van ʼn vermoorde Kaapstadse polisieman word gesoek in verband met sy dood

Die weduwee van ʼn vermoorde Kaapstadse polisieman word gesoek in verband met sy dood

Die polisie in Kaapstad het ʼn lasbrief vir inhegtenisneming uitgereik vir die weduwee van ʼn kollega wat vroeg verlede maand in die stad vermoor is.

Die 32-jarige vrou word daarvan verdink dat sy die moord beplan het op konstabel Mneli Jobela in die Samora Machel-gebied op die Kaapse Vlakte.

Volgens IOL is nog twee verdagtes in hegtenis geneem.

Die polisie vermoed dat die vrou haar tans in die Oos-Kaap bevind.

Die Vrystaatse Onderwysdepartement neem die beheer by Grey Kollege oor

Die Vrystaatse Onderwysdepartement neem die beheer by Grey Kollege oor

Die Vrystaatse Departement van Onderwys het in ʼn drastiese stap die beheer oorgeneem by die bekende Bloemfonteinse skool, Grey Kollege.

Dit volg ná ʼn uitgerekte regstryd tussen die beheerliggaam en die skool se hoof, Deon Scheepers, wat van sy magte onthef is deur die liggaam.

Volksblad berig dat die onderwysersvakbonde, Satu en Fedsas, beide die departement se besluit verwelkom het.

Twee senior amptenare sal ʼn omdraaiplan vir beide die hoër- en laerskool bestuur.

VF Plus Vrede-Suiwel: NVG se besluit skep indruk van politieke beskerming en inmenging

Vrede-Suiwel: NVG se besluit skep indruk van politieke beskerming en inmenging

Die besluit deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) om klagtes teen alle beskuldigdes van die Vrede-Suiwelsage te laat vaar, skep die indruk dat daar politieke inmenging en beskerming in die ondersoek bestaan.

Die VF Plus vind die verskoning deur die NVG, dat hy gesukkel het om samewerking van Indiese- en Arabiese Verenigde Emirate-owerhede te kry, vreemd aangesien prominente figure in die Vrystaatse regering in hegtenis geneem is.

Op die oog af was die vervolging gebou op sterk bewyse. Die feit dat die voormalige hoof van die Vrystaatse departement van landbou, Peter Thabete en die Finansiële hoof, Sylvia Dlamini in hegtenis geneem is, sou beteken dat die NVG se klagtes op sterk bewyse gegrond sou wees.
Die vraag is nou of die ondersoek nie deeglik gedoen is nie, of dat daar moontlik politieke faktore bestaan wat die vervolging van die beskuldigdes beinvloed.

Die ondersoek na staatskaping ontwikkel toenemend ‘n geur van politieke inmenging. Die voormalige Vrystaatse premier, Ace Magashule, is nog nie versoek om voor die Zondo-kommissie van ondersoek te verskyn nie. Intussen word Magashule gereeld geïmpliseer by ongerymdhede waar die Gupta-familie betrokke was.

Die VF Plus sal die besluit deur die NVG bestudeer en verdere stappe oorweeg. Om te verseker dat ‘n deeglike ondersoek na staatskaping gedoen word, sal die VF Plus ook die Regter Rayond Zondo amptelik versoek om Magashule voor dié kommissie te laat getuig om bewerings van staatskapery in onder meer die Vrystaat te verduidelik.

Staatskaping en gevolglike politieke beskerming aan individue wat moontlik daarby betrokke was, is ernstige bewerings. Dit sal fataal wees as prominente politici en amptenare nie weens swak ondersoeke of inmenging op politieke vlak nie vervolg word.

Die VF Plus sal aanhou terugslaan teen die ANC se korrupte misbruik van die Vrystaat se bronne. In 2019, meer as ooit, het kiesers ook die geleentheid om die plundering van die Vrystaat by die stembus te stuit.

R2K het die afskaffing van artikels van wetsontwerp op Kubermisdaad verwelkom

R2K het die afskaffing van artikels van wetsontwerp op Kubermisdaad verwelkom

Die drukgroep, Right to Know, het die afskaffing van artikels van die wetsontwerp op Kubermisdaad verwelkom, wat die minister van Staatsveiligheid verreikende beheer oor die Internet sou verskaf.

Die wetsontwerp het ten doel gehad om oortredings te skep ten opsigte van kubermisdaad, die verspreiding van databoodskappe wat skadelik is strafbaar te maak en tussentydse beskermingsbevele moontlik te maak.

R2K se Murray Hunter sê die afskaffing van die artikels van die wetsontwerp moet gesien word as ʼn oorwinning vir internet-vryheid.

Grysbeer maak ʼn vrou en haar baba in Kanada dood

Grysbeer maak ʼn vrou en haar baba in Kanada dood

Uit Kanada word berig dat ʼn vrou en haar baba deur ʼn grysbeer doodgemaak is in die afgeleë Yukon-gebied in die noordweste van die land.

Die dierevanger, Gjermund Roesholt, het aan die polisie gesê dat ʼn beer op hom afgestorm het naby die hut waar hy en sy vrou Valerie Theoret en hul tienmaandeoue baba, Adele, die afgelope drie maande gewoon het.

Nadat hy die dier doodgemaak het, het hy op die liggame van sy vrou en kind buite die hut afgekom.

Die Parlement se verslag oor grondonteiening word in die hof getoets

Die Parlement se verslag oor grondonteiening word in die hof getoets

ʼn Volbank van regters in die Wes-Kaapse Hooggeregshof sal vandag AfriForum se aansoek aanhoor om die Parlement se verslag oor grondonteiening sonder vergoeding ter syde te stel.

Die Parlement het in sy antwoordende beëdigde verklaring aangevoer dat die drukgroep se aansoek onberade is, die hofstelsel misbruik, voortydig is en ten doel het om beide die Parlement en Suid-Afrikaners te snoer.

AfriForum se Willie Spies sê die Parlement het nie die regte werkswyse gevolg nie.

ʼn Omvattende opname bevind dat teen-Semitiese stereotipes steeds in Europa voorkom

ʼn Omvattende opname bevind dat teen-Semitiese stereotipes steeds in Europa voorkom

ʼn Omvattende opname deur CNN het bevind dat teen-Semitiese stereotipes steeds in Europa voorkom, terwyl die nagedagtenis aan die Joodse Volkslagting besig is om te vervaag.

Meer as ʼn kwart van Europeërs wat aan die opname deelgeneem het, was van mening dat Jode te veel invloed in die sakewêreld en finansies het, terwyl amper een uit vier sê dat Jode te veel invloed in konflik en oorloë uitoefen.

ʼn Derde van Europeërs sê hulle weet baie min of niks van die massamoord op ses miljoen Jode deur die Nazis tydens die Tweede Wêreldoorlog nie.

Suid-Afrikaners word aangemoedig om insette te lewer oor Eskom se jongste aansoek vir tariefverhogings

Suid-Afrikaners word aangemoedig om insette te lewer oor Eskom se jongste aansoek vir tariefverhogings

Die onafhanklike energiekenner, Ted Blom, het Suid-Afrikaners aangemoedig om insette te lewer by die energiereguleerder, Nersa, oor Eskom se aansoek vir ʼn verdere beduidende tariefverhoging om sy tekort op sy verkoopsvooruitskatting aan te vul.

Die sluitingsdatum is oormôre.

Blom sê verbruikers kan deelneem deur ʼn toegangspoort op die webblad, eeco.co.za, wat ʼn opname doen van alle openbare deelname en regstreeks gekoppel is aan Nersa se amptelike kanaal.