Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens probeer ʼn personeelstaking afweer

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens probeer ʼn personeelstaking afweer

Die Vereniging van Staatsamptenare sê die land kan dit nie bekostig dat die Inkomstediens begin staak nie.

Die Inkomstediens sal vandag en môre met die VSA en die gesondheidswerkersvakbond, Nehawu, vergader om die staking te probeer afweer.

Die vakbonde het aanvanklik op ʼn salarisverhoging van 15% aangedring, maar dit hersien en na 11,4% verlaag.

Die belastingagentskap bied 7% aan.

Die VSA se Tahir Maepa sê werkers van die SAID moet betaal word wat hulle toekom.

Kaapstad sê hy sal nie huiwer om die Grondwethof te nader om pogings deur die nasionale regering te stuit om ʼn enkele polisiemag te skep nie

Kaapstad sê hy sal nie huiwer om die Grondwethof te nader om pogings deur die nasionale regering te stuit om ʼn enkele polisiemag te skep nie

Die stad, Kaapstad, sê hy sal nie huiwer om die Grondwethof te nader om pogings deur die nasionale regering te stuit om ʼn enkele polisiemag te skep nie.

Die stad se JP Smith sê ʼn gewelddadige bendelid en heroïenhandelaar wat dié maand deur die metropolisie in hegtenis geneem is, is deur die Suid-Afrikaanse Polisie vrygelaat sonder dat hy aangekla is.

Smith sê dié voorvalle dui op blatante miskenning van openbare veiligheid en doen ook afbreuk aan die goeie werk van die stad se wetstoepassers.

Ramaphosa erken dat Eskom ernstige finansiële probleme ondervind

Ramaphosa erken dat Eskom ernstige finansiële probleme ondervind

President Cyril Ramaphosa het na wat berig word gewaarsku dat die omstandighede by Eskom só sleg is, dat dit moontlik is dat die kragvoorsiener nie teen die einde van volgende maand salarisse sal kan betaal nie.

Dit het na vore gekom uit sy vergadering met die mynwerkersvakbond, NUM, verlede week.

Volgens City Press het ʼn leier van die NUM egter gesê dat Ramaphosa wat die stigter van die vakbond is, later gesê het dat die salarisse wel betaal sal word aangesien die regering ʼn lening vanaf Sjina se Ontwikkelingsbank verkry het.

Eskom sal na verwagting nie dié week beurtkrag instel nie en sê dat die verbetering in die werkverrigting van aanlegte met die herindiensneming van vyf eenhede sedert Vrydag, tydelike verligting gebring het.

Die kragvoorsiener sê ook dat hy diesel- en waterreserwes opgebou is, terwyl kraginvoere vanaf Mosambiek se Cahora Bassa-hidroëlektriese stelsel toegeneem het tot 850 megawatt, met die herstel van die voorsiening deur een van die twee lyne.

Sikloon Idai het beduidende skade aan die tweede lyn aangerig en dit kan maande neem om te herstel.

Jacinda Ardern belowe om nooit die naam van die Christchurch-moskeeslagter te noem nie

Jacinda Ardern belowe om nooit die naam van die Christchurch-moskeeslagter te noem nie

Die Nieu-Seelandse eersteminister, Jacinda Ardern, het plegtig onderneem om nooit die naam van die verdagte in Vrydag se moskee-aanvalle in Christchurch te noem nie.

Vyftig mense is in die voorval dood en tientalle gewond. Sy sê sy weier om hom berug te maak.

Die 28-jarige Australiër, Brenton Tarrant, is kort ná die slagting in hegtenis geneem en van moord aangekla.

Ardern het in die land se Parlement gesê dat die aanvaller baie dinge uit die aanval wou verkry, waarvan een berugtheid is, maar die mense van Nieu-Seeland sal hom niks gee nie – nie eens sy naam nie.

Die Steenkoolvervoerforum wend hom na die hof oor die koopooreenkomste wat aangegaan is met onafhanklike kragprodusente

Die Steenkoolvervoerforum wend hom na die hof oor die koopooreenkomste wat aangegaan is met onafhanklike kragprodusente

Die metaalwerkersvakbond, Numsa, sê hy ondersteun die aansoek van die Steenkoolvervoerforum ten volle om die kragaankoopooreenkomste wat die regering met onafhanklike kragvervaardigers aangegaan het ter syde te laat stel.

Die forum het in die Hooggeregshof in Pretoria beweer dat die energiereguleerder, Nersa, die 27 onafhanklike energieverskaffers goedgekeur het, sonder behoorlike openbare raadpleging.

Numsa se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê die instelling van die onafhanklike krag sal definitief tot reusewerksverliese lei.

ʼn Kultuur van verkragting is steeds aan die orde van die dag by die Universiteit van KwaZulu-Natal

ʼn Kultuur van verkragting is steeds aan die orde van die dag by die Universiteit van KwaZulu-Natal

ʼn Dosent en ʼn student is aangekla van die jongste verkragtings in koshuise op die kampus van die Universiteit van KwaZulu-Natal in Pietermaritzburg.

ʼn Besoekende student het na bewering die eerste verkragting gepleeg en ʼn junior dosent die tweede.

The Witness skryf dat die aanvalle die veiligheid van studente opnuut onder die soeklig geplaas het, nadat vrouestudente vroeër die maand ‘n tweedaelange stille betoging gehou het om die aandag te vestig op seksuele geweld by die universiteit.

Hulle sê verkragting het ʼn instelling geword.

Westelike Provinsie het veranderings aangekondig aan sy afrigtings- en spanbestuurspanne met die oog op hervorming

Westelike Provinsie het veranderings aangekondig aan sy afrigtings- en spanbestuurspanne met die oog op hervorming

Westelike Provinsie het veranderings aangekondig aan sy afrigtings- en spanbestuurspanne met die oog op hervorming.

Met die Direkteur van Rugby, Gert Smal, wat beplan om teen die einde van die maand aan te sluit by die Japanese span Verblitz, sal sy rolle en verpligtinge onder ander bestuurders verdeel word.

John Dobson is aangestel as die hoofafrigter van die Stormers vanaf die volgende seisoen en sal vir Robbie Fleck opvolg, wat die unie sê ʼn deurslaggewende rol sal vervul in die hervormings- en opvolgingsplanne

Ekonoom waarsku dat die styging in brandstofpryse kan lei tot hoër kospryse

Ekonoom waarsku dat die styging in brandstofpryse kan lei tot hoër kospryse

‘n Ekonoom waarsku dat die styging in brandstofpryse kan lei tot hoër kospryse.

Die prys van petrol het om middernag met 74 sent per liter gestyg en diesel met 93 sent per liter.

Die ekonoom Mike Schussler sê kospryse in die land word sterk beïnvloed deur brandstofpryse omdat Suid-Afrika hoofsaaklik van padvervoer
gebruik maak.

Hy meen die prys van brood kan met sowat 10 sent styg, omdat veral die hoër dieselprys ‘n rol speel.

Volgens Schussler sal vleispryse nie so erg geraak word nie, maar enige verwerkte kos sal na verwagting duurder word omdat dit gewoonlik ‘n groter vervoerkomponent het.

Die Coligny-twee is vanoggend in die hof in Mahikeng swaar gevonnis vir die moord op ‘n 15-jarige

Die Coligny-twee is vanoggend in die hof in Mahikeng swaar gevonnis vir die moord op ‘n 15-jarige

Die Coligny-twee is vanoggend in die hof in Mahikeng gevonnis.

Phillip Schutte is effektief 23 jaar tronkstraf opgelê en Pieter Doorewaard is tot 18 jaar tronkstraf gevonnis weens die moord op die vyftienjarige Matlhomola Moshoeu.

Die burgerregteorganisasie Afriforum het vroeër aangedui dat hy teen die mans se skuldigbevinding en die vonnis wil appelleer.

Solidariteit sal vandag saam met AfriForum in die Johannesburgse Arbeidshof die voorgestelde kwotas in sport teenstaan

Solidariteit sal vandag saam met AfriForum in die Johannesburgse Arbeidshof die voorgestelde kwotas in sport teenstaan

Solidariteit sal vandag saam met AfriForum in die Johannesburgse Arbeidshof aanvoer dat Sport en Ontspanning se hervormingshandves ter syde gestel moet word.

Dit is om die instelling van sportkwotas te beëindig.

Die Minister van Sport, Tokozile Xasa, en verskeie sportliggame, insluitend die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, Krieket Suid-Afrika en Atletiek Suid-Afrika sal die aansoek teenstaan.

Solidariteit se Werner Human sê die instelling van die kwotastelsel is onwettig.