Die Parlement het die omstrede Wetsontwerp op die Administratiewe Beregtiging van Padverkeersoortredings goedgekeur

Die Parlement het die omstrede Wetsontwerp op die Administratiewe Beregtiging van Padverkeersoortredings goedgekeur

Die Parlement het die omstrede Wetsontwerp op die Administratiewe Beregtiging van Padverkeersoortredings, ook bekend as Aarto, goedgekeur.

Dit sluit in bepalings vir die elektroniese en posaflewering van oortredingskennisgewings en die opname van die elektroniese kennisgewings in ʼn Nasionale Padverkeersoortredingsregister.

Die wetsontwerp maak ook voorsiening vir die oplegging van boetes vir padverkeersoortredings en ʼn oortredingstribunaal om dié oortredings te hanteer.

Die wetsontwerp sal nou na president Cyril Ramaphosa getuur word om as wet onderteken te word.

Eskom het glo R659-miljoen vooruitbetaal vir steenkool vanaf die Guptas

Eskom het glo R659-miljoen vooruitbetaal vir steenkool vanaf die Guptas

Getuienis voor die staatskapingskommissie dui daarop dat Eskom inderwaarheid die stelsel vir die gek gehou het, toe hy ʼn vooruitbetaling van R659-miljoen gedoen het vir steenkool vanaf die Guptas se sukkelende Optimum-steenkoolmyn.

ʼn Senior finansiële amptenaar van Eskom, Snehal Nagar, het aan die kommissie verduidelik hoe die aanvraagbeheermaatreëls oortree is, sodat die betaling in ʼn ongewone kort tyd gedoen kon word.

Hy sê hy het ʼn dringende opdrag ontvang vanaf sy toesighouer, Maya Naidoo, wat die hoofbestuurder in die finansiële afdeling was.

Twee jong sussies is gered nadat hulle 44 uur in die Amerikaanse wildernis deurgebring het

Twee jong sussies is gered nadat hulle 44 uur in die Amerikaanse wildernis deurgebring het

Twee jong sussies is gered nadat hulle 44 uur in die Amerikaanse wildernis deurgebring het.

Die 8-jarige Leia Carrico en haar 5-jarige suster, Caroline, het uitgeglip ondanks hulle ma se waarskuwing om tuis te bly en het verlore geraak op ʼn bokpaadjie.

ʼn Soekspan het toe die meisies se stewel- en lekkergoedpapierspoor gevolg en hulle uiteindelik opgespoor – ontwater maar in goeie luim.

Die parlement se Portefeuljekomitee oor Kommunikasie gaan van vandag af onderhoude voer met kandidate wat op die SAUK-raad wil dien

Die parlement se Portefeuljekomitee oor Kommunikasie gaan van vandag af onderhoude voer met kandidate wat op die SAUK-raad wil dien

Die parlement se Portefeuljekomitee oor Kommunikasie gaan van vandag af onderhoude voer met kandidate wat op die SAUK-raad wil dien.

Agt aanstellings moet gedoen word, uit die 24 kandidate op die kortlys.

Van die kandidate is die voormalige bestuurshoof, Lulama Mokhobo en die aktrise Nakedi Ribane.

Die SAUK-raad is sedert verlede jaar sonder ‘n kworum nadat verskeie lede bedank het.

Intussen sal president Cyril Ramaphosa Donderdag vir die laaste keer in die huidige sitting mondelinge vrae in die Nasionale Vergadering beantwoord.

Die Nasionale Vergadering verdaag op 20 Maart en die Nasionale Raad van Provinsies op 28 Maart, met die oog op die algemene verkiesing wat op 8 Mei plaasvind.

Nog twee senior bestuurders van Eskom sal vandag by die Zondo-kommissie in Johannesburg getuig

Nog twee senior bestuurders van Eskom sal vandag by die Zondo-kommissie in Johannesburg getuig

Nog twee senior bestuurders van Eskom sal vandag by die Zondo-kommissie in Johannesburg getuig.

Hulle is Snehal Nagar en Gert Opperman van die Primêre Energie-afdeling.

Gister het ‘n korporatiewe spesialis oor befondsing, Sincedile Shweni, erken dat die Chinese batebestuursmaatskappy – Huarong – Eskom se tenderprosedures omseil het en voorkeurbehandeling gekry het.

Hy het getuig dat Huarong Eskom versoek het om ‘n hanteringsfooi van 400 miljoen rand in ‘n dopmaatskappy te betaal, wat as ‘n filiaal geregistreer is.

Shweni het gesê die Reserwebank sou nie die leningsooreenkoms goedgekeur het, indien hy sy kommer oor die transaksie te kenne gegee het nie.

Die sitting hervat om tienuur.

Verskeie orkane in die Amerikaanse deelstate, Alabama en Georgia, het talle mense gedood en ernstig beseer

Verskeie orkane in die Amerikaanse deelstate, Alabama en Georgia, het talle mense gedood en ernstig beseer

Verskeie orkane in die Amerikaanse deelstate, Alabama en Georgia, het talle mense gedood en ernstig beseer, terwyl meer as 35 000 mense in dié twee state sonder elektrisiteit is.

Die dodetal in Alabama staan reeds op 23 nadat twee orkane dié staat Sondagmiddag getref het, en sal na verwagting verder styg.

Huise, geboue en paaie is oor ‘n groot gebied beskadig en bome is ontwortel.

Reddingswerkers werk onverpoosd in die hoop om nog oorlewendes te vind.

Eskom het aangekondig dat Fase-3 beurtkrag vanoggend van agtuur tot elfuur vanaand sal geld

Geen beurtkrag word vir vandeesweek vir Suid-Afrikaners voorspel nie

Eskom het bevestig dat die kragnetwerk stabiel is en dat geen beurtkrag vandeesweek verwag word nie.

Die kragvoorsiener het verlede week ‘n paar tegniese probleme ondervind wat gelei het tot die instelling van fase een beurtkrag.

Eskom se waarnemende hoof van kragopwekking, Andrew Etzinger sê verlede week se probleme is opgelos en oor die algemeen lyk die vooruitsigte vir vandeesweek goed.

Maleisië is bereid om die soektog na vlug MH-370 te hervat

Maleisië is bereid om die soektog na vlug MH-370 te hervat

Maleisië het aangekondig dat hy bereid is om die soektog na vlug MH-370 te hervat – vyf jaar nadat die vliegtuig verdwyn het.

Die land sê hulle sal nuwe aanbiedinge van die Amerikaanse maatskappy, Ocean Infinity, en ander maatskappye oorweeg om die soektog te hervat.

Ocean Infinity het in 2018 na die vliegtuig gesoek, maar dit in Mei laat vaar sonder dat hulle enigiets kon vind.

Die maatskappy se bestuurshoof, Oliver Plunkett, sê hulle hoop om nuwe tegnolgie te gebruik om weer te begin soek.

Die vliegtuig het met 239 mense in Maart 2014 verdwyn op `n vlug van Kuala Lumpur na Beijing.

Media Monitering Suid-Afrika het sy kommer uitgespreek oor voorvalle wat volgens hom mediavryheid bedreig

Media Monitering Suid-Afrika het sy kommer uitgespreek oor voorvalle wat volgens hom mediavryheid bedreig

Media Monitering Suid-Afrika het sy kommer uitgespreek oor voorvalle wat volgens hom mediavryheid bedreig.

Dit volg nadat die ANC se verkiesingshoof, Fikile Mbalula, volgens berigte, die SAUK daarvan beskuldig het dat hulle die beriggewing oor sommige van die party se gebeurtenisse beperk.

Die openbare uitsaaier het egter gesê hy moet sy verslaggewing balanseer deur ook dekking te verleen aan ander politieke partye in aanloop tot die verkiesing.

Die organisasie se Thandi Smith sê hulle sal voortgaan om te veg vir mediavryheid en ʼn onafhanklike openbare uitsaaier.