Gru-ongeluk op die N-8-pad: Dodetal staan nou op 6

Die Vrystaatse departement van vervoer het bevestig dat die dodetal na die gru-ongeluk Saterdag op die N-8-pad in Botshabelo nou op ses staan.

Luidens ‘n voorlopige ondersoek het ‘n bakkie wat van Lesotho onderweg was se wiel gebars, waarna die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het.

Dit het teen aankomende verkeer gebots. Vier meisies wat onderweg was na ‘n rugbywedstryd in Bloemfontein is dood, asook die bestuurder van een van die voertuie.

‘n Vyfde meisie het later in die hospitaal gesterf.

Die 14 partye wat in die parlement verteenwoordig word sal vandag president Ramaphosa se staatsrede debatteer

Die veertien partye wat in die parlement verteenwoordig word, sal vandag president Cyril Ramaphosa se staatsrede van verlede Donderdag, debatteer.

Die meeste opposissiepartye het hul teleurstelling met die staatsrede uitgespreek.

Hulle beskuldig die president daarvan dat hy geen praktiese planne vir die land het nie.

Die ANC het in reaksie gesê meer inligting oor die uitvoerbaarheid van Ramaphosa se planne sal deur die onderskeie ministers verskaf word.

Ramaphosas sal môre repliek lewer op die debat.

Bloemfonteiners se watertoevoer behoort stelselmatig te herstel nadat die Mangaung-metro ‘n betaling op sy agterstallige skuld aan Bloemwater gemaak het

Bloemfonteiners kan verwag dat watertoevoer vandag deur die loop van die dag na die onderskeie woonbuurte sal begin herstel

Bloemfonteiners kan verwag dat watertoevoer vandag deur die loop van die dag na die onderskeie woonbuurte sal begin herstel.

Volgens die DA se waterkenner, Rossouw Botes, is die Dewetsdorp-pyplyn herstel en die pyplyn is 90% vol water.

Water het oor die naweek reeds by die Brandkop-reservoir begin inloop.

Dit beteken woonbuurte naby aan die reservoir behoort reeds water te hê, terwyl dele verder weg van Brandkop bes moontlik al begin water kry het.

Sommige inwoners kan egter eers laat vanaand of vroeg more oggend water hê.

Die polisie in Limpopo stel ondersoek in na die dood van ʼn man en sy twee dogters in ʼn oënskynlike gesinsmoord in Polokwane

Die polisie in Limpopo stel ondersoek in na die dood van ʼn man en sy twee dogters in ʼn oënskynlike gesinsmoord in Polokwane.

Die kinders het blykbaar by hulle ma gewoon, nadat die paartjie vervreemd geraak het, maar het tydens skoolvakansies by hul pa gaan kuier.

Die ouers het dié naweek skynbaar ʼn woordewisseling oor die foon gehad, waarna die man die kinders, wat agt en vyf jaar oud is, in verskillende kamers opgehang het.

Hy het daarna van die moordtoneel af weggevlug en homself in ʼn ander huis in die omgewing gehang.

Verskeie programme is vir leerders gereël om te verseker dat hulle tydens die skoolvakansie veilig bly

Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement se Direktoraat vir Veilige Skole het verskeie programme vir leerders gereël om te verseker dat hulle tydens die skoolvakansie veilig is.

Die woordvoerder van die departement, Millicent Merton, sê een van hul grootste bekommernisse elke vakansie is leerders wie se ouers voltyds werk en hul kinders sonder toesig tuis laat.

Die VN vra vir ʼn onafhanklike ondersoek na die dood van die voormalige Egiptiese president, Mohammed Morsi

Die VN vra vir ʼn onafhanklike ondersoek na die dood van die voormalige Egiptiese president, Mohammed Morsi

Die Verenigde Nasies het ʼn beroep gedoen vir ʼn onafhanklike ondersoek na die dood van die voormalige Egiptiese president, Mohammed Morsi, wat Maandag oorlede is nadat hy tydens ʼn hofverskyning in mekaar gesak het.

Hy was 67.

Morsi was Egipte se eerste demokraties verkose president, maar is in aanhouding sedert hy in 2013 deur die weermag ontsetel is.

BBC-nuus berig dat sy familie vir ʼn geruime tyd reeds hul kommer te kenne gegee het oor die behandeling wat hy in die tronk ontvang.

Die polisie in Pretoria waarsku haweloses teen ʼn moontlike reeksmoordenaar

Die polisie in Pretoria waarsku haweloses teen ʼn moontlike reeksmoordenaar

Die polisie in Pretoria het die hoofstad se haweloses teen ʼn moontlike reeksmoordenaar gewaarsku.

Dit volg nadat vier boemelaars onder dieselfde omstandighede vermoor is.

eNCA berig dat die vierde liggaam onlangs ontdek is, nadat twee mense in ʼn parkie in Muckleneuk vermoor is en nog ʼn liggaam daar naby gevind is.

Die polisie sê hulle praat met haweloses en het hulle gewaarsku om op hul hoede te wees.

Die Hooggeregshof het uitspraak voorbehou in die aansoek van drie Boeremag-lede dat hul verhoor onwettig verklaar en hulle onvoorwaardelik vrygelaat moet word

Die Hooggeregshof het uitspraak voorbehou in die aansoek van drie Boeremag-lede dat hul verhoor onwettig verklaar en hulle onvoorwaardelik vrygelaat moet word

Die Hooggeregshof in Pretoria het uitspraak voorbehou in die aansoek van drie Boeremag-lede dat hul verhoor onwettig verklaar en dat hulle onvoorwaardelik vrygelaat moet word.

Lets Pretorius en sy seuns, Johan en Wilhelm het aansoek gedoen dat hulle saak op grondwetlike gronde van nul en gener waarde verklaar word.

Hulle en ander lede van die regse groep het in 2013 lang vonnisse ontvang omdat hulle beplan het om die regering omver te werp en oudpresident Nelson Mandela te vermoor.

Die staat het aangevoer dat die aansoek ligsinnig van aard is.

Bloemwater gaan beplande instandhoudingswerk aan die Welbedacht Dam-pyplyn uitvoer

Die Mangaung Metro het bevestig dat Bloemwater beplande instandhoudingswerk aan die Welbedacht Dam-pyplyn gaan uitvoer wat onderbrekings van 36 uur kan voortbring.

Die metro het ‘n amptelike verklaring uitgestuur dat die water van vandag tot 21 Junie onderbreek kan word.

Die areas wat geraak word, sluit in die suide van Bloemfontein en woonbuurte soos Pellissier, Lourierpark, Bloemanda, Hospitaalpark, Fase 2 tot 9, Phelindaba, Bergman, Bloemspruit, Heidedal, Uitsig, Gardeniapark, Fauna, Universitas en gedeeltes van Langenhovenpark.

Die metro het alle belanghebbendes gevra om die nodige voorsorg te tref en gesê watertenks sal in die areas wat geraak word, beskikbaar wees.

Intussen het die DA se waterkenner, Rossouw Botes, bevestig dat die Brandkop-resevoir genoeg water bevat sodat die onderbreking in waterverskaffing so min as moontlik ontwrigting sal veroorsaak.

Volgens die metro se amptelike verklaring sal die watertoevoer vanaand om 12 uur onderbreek word en Vrydagmiddag 12 uur weer aangeskakel word.

Volgens Botes is hierdie tydsaanduiding akkuraat, mits niks met die onderhoudswerk aan die pyplyn skeefloop nie.

ʼn Indiese waaghals verdrink nadat hy Houdini probeer naboots

ʼn Indiese waaghals verdrink nadat hy Houdini probeer naboots

ʼn Indiese waaghals, Chanchal Lahiri ook bekend as die Mandrake, het verdrink nadat hy homself in die Gangesrivier laat afsak het.

Die poging was om die beroemde toertjie van Houdini te herhaal.