Spanje rig ʼn internasionale waarskuwing oor die grootste uitbraak van listerellose in die land se geskiedenis

Spanje het ʼn internasionale waarskuwing uitgereik nadat die aantal mense wat geraak is deur die grootste uitbraak van listerellose in die land se geskiedenis tot 150 gestyg het.

ʼn Negentigjarige vrou is dié week aan die siekte oorlede en 56 mense is in die hospitaal opgeneem.

Gesondheidsowerhede stel ondersoek in na meer as 500 beweerde gevalle van listerellose.

Sky News berig dat die verspreiding van die siekte kommer in Spanje laat ontstaan wat jaarliks deur nagenoeg 80-miljoen toeriste besoek word.

ʼn Energiekenner sê Eskom moet eers sy huis in orde kry voordat hy meer geld vanaf die regering ontvang

Die energiekenner, Ted Blom, sê hy is nie verras dat die regering dit oorweeg om privaat en openbare pensioenfondse te gebruik om die land se sukkelende staatsondernemings en in die besonder Eskom te red nie.

Die hoof van die ANC se ekonomiese hervormingsubkomitee, Enoch Godongwana, sê die batebestuursbedryf bestuur tans R6 triljoen wat geleen moet word.

Blom sê Eskom moet eers sy huis in orde kry voordat hy nog geld van die regering af ontvang.

Bloemfonteinse laerskool het weer water na hofbevel

Die laerskool Fichardtpark in Bloemfontein het weer water nadat die Mangaung-metro deur middel van ‘n tussentydse hofbevel gedwing is om die skool se krane weer oop te draai.

Netwerk24 berig dat diè skool een van meer as 92 skole is in die bedieningsgebied van die metro waarvan die watertoevoer weens munisipale skuld afgesny is in die laaste week.

Volgens Netwerk24 is die waterrekening tot op datum betaal, maar die erfbelasting is agterstallig.

Jaco Deacon, van die Federasie van Beheerliggaame van Suid-Afrikaanse skole, en voorsitter van die skool se beheerliggaam sê, die erf waarop die skool geleë is behoort aan die Vrystaatse departement van openbare werke, en is diè departement verantwoordelik vir die erfbelasting.

Die hofbevel is van krag tot 07 Oktober wanneer die skool en sy beheerliggaam gaan aansoek doen dat die besluit ter syde gestel word.

ʼn Polisiespeurder van Stellenbosch sal na verwagting vandag in die hof verskyn in verband met die moord op sy kollega

ʼn Polisiespeurder van Stellenbosch sal na verwagting vandag in die hof op Franschhoek in die Boland verskyn in verband met die moord op sy kollega.

Die 41-jarige sersant David Hoffman is eergister dood toe hy in die kop geskiet is in sy huis op Franschhoek.

Die verdagte, wat gehelp het om drie hoëprofiel sake in die afgelope jare op te los, was op besoek aan die slagoffer en hulle het skynbaar die polisie ontbied nadat ʼn groep mense op die huis toegesak het.

Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat stel ondersoek in.

ʼn Voormalige hoof van die NVG, Mxolisi Nxasana, getuig oor sy afdanking

Die voormalige hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, Mxolisi Nxasana, sê kort nadat hy aangestel is, het twee NVG-amptenare hom meegedeel dat daar planne deur Nomgcobo Jiba en Lawrence Mrwebi beraam word om van hom ontslae te raak.

Oudpresident Jacob Zuma het hom in 2017 onwettig uit die pos verwyder en ʼn goue handdruk van R17-miljoen gegee.

Die Grondwethof het die besluit hersien en ter syde gestel asook die besluit om sy opvolger, Shaun Abrahams, aan te stel.

In sy getuienis voor die staatskapingskommissie vandag het Nxasana gesê Jiba en Mrwebi het hom swartgesmeer by Zuma

ʼn EFF-parlementslid erken dat sy het geld vanaf die CR17-fonds ontvang

Daar het nog vrae ontstaan oor president Cyril Ramaphosa se CR17 presidensiële veldtog.

Dit volg nadat die EFF onthul het dat een van sy LP’s, Tebogo Mokwele, erken het dat sy voordeel getrek het uit die CR17-fonds.

Mokwele het R40 000 ontvang nadat een van haar familielede haar ontval het.

Die EFF het ʼn beroep op alle lede gedoen wat ook moontlik ʼn skenking van die CR17-verkiesingsfonds ontvang het om na vore te kom.

ʼn Tiener wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op sy ma sal na verwagting in die hof verskyn

ʼn Tiener wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op sy ma sal na verwagting binnekort in Kaapstad in die hof verskyn.

Vriende van die 55-jarige slagoffer beskryf haar op sosiale media as ʼn verpleegster en enkelouer wat haar bes probeer het om haar seuns groot te maak.

Die 14-jarige seun is aangekeer nadat die vrou se liggaam Saterdag met verskeie steekwonde in hul gesinswoning in Kuilsrivier gevind is.

Brian Molefe sê hy win ‘n regsmening in oor die pad vorentoe nadat hy sy appèl ten opsigte van sy pensioenuitbetaling verloor het

Die voormalige hoofbestuurder van Eskom, Brian Molefe, sê hy win ‘n regsmening in oor die pad vorentoe nadat hy sy appèl ten opsigte van sy
pensioenuitbetaling verloor het.

Die Grondwethof het laasweek Molefe se appèlaansoek verwerp teen ʼn beslissing van die Hooggeregshof dat hy ʼn deel van die pensioen van R30 miljoen wat hy vanaf die kragvoorsiener ontvang het moet terugbetaal.

Transnet dagvaar hom ook vir bykans R80 miljoen.

Molefe sê die Grondwethof het ʼn fout begaan met sy uitspraak.

Die hofgeding tussen president Cyril Ramaphosa en die OB word vanoggend in die Hooggeregshof in Pretoria voortgesit

Die hofgeding tussen president Cyril Ramaphosa en die Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, word vanoggend in die Hooggeregshof in Pretoria voortgesit.

Ramaphosa doen aansoek vir ʼn dringende tussentydse bevel teen haar verslag oor die skenking van R500 000 deur die omstrede Bosasa-maatskappy vir sy veldtog om as ANC-leier verkies te word.

Die president versoek ʼn dringende geregtelike hersiening van die bevindings in die verslag.

Mkhwebane het onlangs aangedui dat sy nie die aansoek gaan teenstaan nie.