Old-Mutual se hoof weer belet om terug te keer werk toe

Ou Mutual se hoofbestuurder, Peter Moyo, wat verskeie kere reeds deur die versekeraar afgedank is, is vir ʼn derde keer belet om terug te keer werk toe.

Die Hooggeregshof in Johannesburg het opdrag gegee vir sy tydelike heraanstelling nadat hy oor beweerde botsende belange afgedank is.

Ou Mutual hou egter vol dat Moyo steeds afgedank is.

Die versekeraar sê hulle het versoek dat die appèlverhoor in November bespoedig word.

Moyo sê dit gaan sy verstand te bowe dat hy twee keer afgedank kan word.

Ekurhuleni vra om verskoning vir die optrede van ʼn Metro Polisiebeampte

ʼn Lid van die Metro-verkeerspolisie in Ekurhuleni wat op video geneem is terwyl hy na bewering onder die invloed van alkohol was, is geskors.

Die amptenaar het amper in ʼn motorfietsryer in Benoni vasgery en gedreig om die man te skiet terwyl hy besig was om hom af te neem.

Die waarnemende burgemeester van Ekurhuleni, Lesiba Mpya, sê die stad is uit die veld geslaan en betreur die beampte se gedrag.

Pogings word aangewend om die staking in die bankwese te voorkom

Die organisasie, Sake-eenheid Suid-Afrika, het die hof genader om ʼn bevel te verkry teen die stakings in die bankwese wat vir Vrydag en die 7de van volgende maand beplan word.

Die bankvakbond, Sasbo, se 73 000 lede beplan om landswyd teen posverminderings te staak.

Kaizer Moyane van die organisasie sê die vakbond het nog nie voldoen aan die regsvereistes vir dié staking wat die bankwese kan lamlê nie.

ʼn Facebook-groep met die naam #I’mStaying wat homself toespits op die positiewe dinge in Suid-Afrika het reeds meer as 172 000 lede

ʼn Facebook-groep met die naam #I’mStaying wat homself toespits op die positiewe dinge in Suid-Afrika het reeds meer as 172 000 lede.

Die groep wat vroeër die maand deur Jarette Petzer gestig is, word beskryf as ʼn platform vir diegene wat steeds glo dat Suid-Afrikaners as ʼn nasie dinge kan omkeer.

#I’mStaying het duisende video’s, foto’s en stories ontvang oor wat van Suid-Afrika een van die beste lande in die wêreld maak om in te woon.

President Cyril Ramaphosa sê geen taal in Suid-Afrika is verhewe bo ʼn ander nie

President Cyril Ramaphosa sê geen taal in Suid-Afrika is verhewe bo ʼn ander nie.

Hy het die hoofplegtigheid van Erfenisdag op Upington in die Noord-Kaap toegespreek.

Ramaphosa het Suid-Afrikaners aangemoedig om hul erfenis aan te gryp en het daarop gewys dat dit nie waar is dat enige taal tot die verlede behoort en daar moet bly nie.

Hy het gesê taal verklaar mense se identiteit en help mense verstaan waar hulle vandaan kom.

Hy sê dit verbind Suid-Afrikaners en hul kinders in die hede.

Die vierde en moontlik laaste verdagte in die ontvoering van ʼn Vanderbijlparkse meisie sal na verwagting vandag in die plaaslike Landdroshof verskyn

Die vierde en moontlik laaste verdagte in die ontvoering van ʼn Vanderbijlparkse meisie sal na verwagting vandag in die plaaslike Landdroshof verskyn.

Die 24-jarige man is eergister in die nabygeleë Muvhango in hegtenis geneem nadat die ander drie beskuldigdes vroeër aangekeer is.

Die sesjarige Amy-Leigh de Jager is ongedeerd terugbesorg nadat sy vroeër die maand voor haar skool ontvoer is.

Haar onderwyseres, Tharina Human, Laetitia Nel en Pieter van Zyl sal moontlik Dinsdag om borgtog aansoek doen.

Die waterprobleme wat Bloemfonteiners tans in sommige woonbuurte ervaar, behoort van korte duur te wees

Die waterprobleme wat Bloemfonteiners tans in sommige woonbuurte ervaar, behoort van korte duur te wees.

Rosestad Nuus het verneem dat ‘n elektriese transformator foutief is en tans deur Eskom herstel word.

Gevolglik word min water gepomp vanaf die Welbedacht-dam na die resevoir by Brandkop.

Om tans aan die vraag na water te voldoen, word meer water vanaf Rustfontein-dam na die resevoir herlei.

Dit is nog onbekend hoe lank die herstelwerk gaan duur, maar die verwagting is dat dit later vandag voltooi behoort te wees.

Inwoners word intussen gevra om steeds water spaarsaam te gebruik.

Die Raad vir Mediese Fondse het vyf senior beamptes geskors

Die Raad vir Mediese Fondse het vyf senior beamptes geskors ná aantygings van korrupsie en onetiese gedrag deur verklikkers aangemeld is.

Die reguleerder sê in ʼn verklaring dat die bewerings samespanning met die aanstelling van diensverskaffers, die onreëlmatige plasing van fondse onder kuratorskap asook onreëlmatige besteding op diensverskaffers insluit.

Volgens die registrateur en hoofbestuurder, Sipho Kabane, is die skorsings en ondersoek in ooreenstemming met die raad se benadering dat geen onetiese gedrag geduld sal word nie.

TLU SA sê die proses van verval in Suid-Afrika kan slegs gestop en omgekeer word wanneer die ANC nie meer die regerende party in die land is nie

TLU SA sê die proses van verval in Suid-Afrika kan slegs gestop en omgekeer word wanneer die ANC nie meer die regerende party in die land is nie.

Netwerk24 berig volgens die president van TLU SA, Louis Meintjies, moet die ANC se beleid blootgelê word sodat Suid-Afrikaners en die res van die wêreld die skade daarvan kan sien.

Meintjies het op TLU SA se kongres in Pretoria gesê die ANC en sy alliansie-vennote steel alle Suid-Afrikaners se toekoms.

Volgens Meintjies is die ANC verbind tot ‘n nasionale demokratiese revolusie en moet hierdie uitgediende edeologie stopgesit word.

Meintjies het voorts gesê TLU SA is verbind tot die skep van ‘n landbou-omgewing waarin sy lede vrymoedig hul dagtaak kan verrig.

Die vermeende ontvoerders van die 6-jarige Amy-Leigh de Jager verskyn vandag weer in die hof

Die vermeende ontvoerders van die sesjarige Amy-Leigh de Jager verskyn vandag weer in die hof waar hulle waarskynlik om borgtog gaan aansoek doen.

Netwerk24 berig die 27-jarige Tharina Human, ‘n onderwyser aan Amy-Leigh se skool, sowel as Leatitia Nel en Pieter van Zyl, onderskeidelik in hul 40’s en 50’s, verskyn vandag weer in die hof in Vanderbijlpark.

Amy-Leigh is 18 ure lank op Van Zyl se kleinhoewe aangehou nadat sy by die Laerskool Kollegepark ontvoer is.

Die ontvoerders het ‘n losprys van R2 miljoen geëis, wat nooit betaal is nie.