Die energiekenner, Ted Blom, sê hy is nie baie positief oor Eskom nie

Die energiekenner, Ted Blom, sê hy is nie baie positief oor Eskom nie.

Die Minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, het gister die regering se langverwagte plan om Eskom te red bekend gestel.

Dit sluit in die blootstelling daarvan aan groter mededinging, die verlaging van brandstofkoste en die verhoging van die hernubare energie-uitsette.

Die kragvoorsiener voorsien omtrent 95% van die land se elektrisiteit en sy huidige skuldlas beloop R450 miljard.

Blom sê daar wag ʼn baie moeilike tyd op die land oor die volgende vyf jaar terwyl Eskom sy sake regruk

Nomgcobo Jiba kry ʼn laaste sewe kalenderdae om voorleggings te doen

Die parlementêre portefeuljekomitee oor Justisie en Korrektiewe Dienste het besluit om Nomgcobo Jiba ʼn laaste sewe kalenderdae te gun om voorleggings te doen oor president Cyril Ramaphosa se aanbeveling dat sy en haar kollega Lawrence Mrwebi hulle poste by die Nasionale Vervolgingsgesag moet ontruim.

Dit volg ná ʼn hofbeslissing twee weke gelede dat Jiba steeds die geleentheid het om voorleggings aan die Parlement doen oor haar heraanstelling, wat sy nog nie uitgeput het toe sy die geleentheid gebied is om dit te doen nie.

Sy voer aan dat Ramaphosa se besluit omgrondwetlik is en dat sy heraangestel moet word.

Die Departement van Basiese Onderwys verwerp die volgehoue doelbewuste wanvoorstelling van feite oor ʼn deel van die inhoud van die Lewensoriënteringsvak

Die Departement van Basiese Onderwys verwerp die volgehoue doelbewuste wanvoorstelling van feite oor ʼn deel van die inhoud van die Lewensoriënteringsvak.

Dit volg nadat sommige onderwysers gedreig het om te staak oor die nuwe leerplan.

Hulle verkies die bestaande Omvattende Seksualiteitsonderrig wat sedert 2000 deel uitmaak van die leerplan.

Elijah Mhlanga van die departement sê hulle wilherbevestig dat daar geen nuwe inhoud by die Lewensoriënteringsvak in skole gevoeg is nie.

Die Afrikanerbond beskuldig Buang Jones dat hy die Eben Etzebeth-saak misbruik

Die Afrikanerbond beskuldig die hoof van regsdienste van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie daarvan dat hy die polemiek rondom die Springbok Eben Etzebeth se beweerde wangedrag misbruik om sy kanse te verbeter om as volgende adjunk-openbare beskermer aangestel word.

Buang Jones is een van agt mense op die kortlys vir die posisie.

TimesLive berig dat die organisasie in ʼn brief aan die kommissie aanvoer dat Etzebeth reeds skuldig bevind is voordat die ondersoek afgehandel is, en dat Jones bevooroordeeld is.

Die rugbyspeler het gister sy 28ste verjaarsdag in Japan gevier, waar Suid-Afrika besig is om voor te berei vir Saterdag se Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland.

Die Vereniging van Staatsamptenare is bekommerd oor die vertraging in die ondersoek na die Openbare Beleggingskorporasie

Die Vereniging van Staatsamptenare sê die vertraging in die afhandeling van die verslag van die kommissie van ondersoek na die Openbare Beleggingskorporasie is kommerwekkend.

President Cyril Ramaphosa het verlede week ingestem om die kommissie se finale verslag tot 15 Desember uit te stel.

Tahir Maepa van die VSA sê die voortgesette vertragings kan ʼn negatiewe uitwerking hê, nie slegs op die ekonomie nie, maar ook op die rente wat verdien kon word indien die fondse herwin en herbelê sou word.

Eskom sê geen beurtkrag word vir vandag of die res van die week beplan nie

Eskom sê geen beurtkrag word vir vandag of die res van die week beplan nie, hoewel die kragnetwerk steeds onder druk is.

Die kragverskaffer sê indien daar ‘n beduidende verandering by kragstasies of verdere onbeplande tegniese probleme is, kan beurtkrag op kort kennisgewing ingestel word.

Verlede week is Fase Een en Fase Twee beurtkrag toegepas. Eskom sê hoewel sommige eenhede weer krag lewer, moes nood diesel- en watervoorrade gebruik word om kapasiteit aan te vul.

Volgens die kragverskaffer vorder planne ook goed om die vervoerband by die Medupi-kragstasie te herstel en behoort Eskom teen die einde van hierdie week weer op vol kapasiteit te wees.

Solidariteit sê die grootskaalse werkverliese in die land kan nie net toegeskryf word aan die Vierde Nywerheidsrewolusie nie

Solidariteit sê die grootskaalse werkverliese in die land kan nie net toegeskryf word aan die Vierde Nywerheidsrewolusie nie.

Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie sê met kunsmatige intelligensie, die rewolusie en outomatisering wat ʼn werklikheid word, sal dit moeilik wees om werksverlies te stuit.

Die KVBA glo dat werkers in die bou-, huishoudelike en landboubedrywe die meeste onder die uitwerking van die nywerheidsrewolusie sal deurloop.

Marius Croucamp van Solidariteit sê die tyd het aangebreek dat die regering verantwoordelik optree en sy populistiese beleid in die belang van alle werkers laat vaar.

Helen Zille sê sy sal die DA-leier, Mmusi Maimane, ondersteun en haar agter die skerms beywer om uitvoering te gee aan die party se visie

Die voormalige DA-leier, Helen Zille, sê sy sal die huidige partyleier, Mmusi Maimane, ondersteun en haar agter die skerms beywer om uitvoering te gee aan die party se visie.

Sy is bo Athol Trollip, Mike Waters en Thomas Walters verkies as die DA se nuwe federale raadsvoorsitter.

Zille sal verantwoordelik wees vir die organisasie en administrasie van die party asook die toepassing van die federale raad en uitvoerende bestuur se besluite.

Zille het onderneem om binne die lyne in te kleur.

Maimane het ná die aankondiging van die uitslag gesê Zille se verkiesing bied ʼn geleentheid vir hernuwing en verandering vir die DA.

Die politieke ontleder, Ongama Mtimka, sê dit sal nou moeilik vir Maimane wees om gesag in die party af te dwing.

Nelson Mandelabaai kanselleer die debat oor die mosie van wantroue in sy burgemeester

Die speaker van die Nelson Mandelabaai-raad, Buyelwa Mafaya, het vandag se mosie van wantroue in die burgemeester, Mongameli Bobani, ter elfder ure teruggetrek.

Raadslede sê hulle is vroeg vanoggend in kennis gestel van die besluit.

Mafaya sê die polisie het haar gewaarsku dat betogings ʼn sekerheidsgevaar kan inhou.

The Herald berig dat raadslede van die United Front wat Bobani steun, onderneem het dat die bloed sal vloei indien die mosie aanvaar word.

Die Dros-verkragtingslagoffer se lyding duur voort

Die Pretoriase Hooggeregshof het vandag gehoor dat die slagoffer in die Dros-verkragtingsaak steeds onthou wat gebeur het en hoe sy beseer is.

Die veroordeelde verkragter, Nicholas Ninow, het die 7-jarige meisie aangeval in ʼn toilethokkie van ʼn Dros-restaurant in die hoofstad laasjaar.

Die polisie se forensiese maatskaplike werker, Karen Botha, wat die verslag oor die uitwerking op die slagoffer saamgestel het, het aan die hof gesê dat die meisie steeds nagmerries kry.

Intussen het Ninow se ouma, Pauline Gericke, gesê sy glo vas dat hy nie ʼn pedofiel is nie.