Kimberley se burgemeester beplan om sy luukse ampsmotor te verkoop om sodoende die Sol Plaatje-munisipaliteit wat finansiële probleme ondervind te help

Kimberley se burgemeester beplan om sy luukse ampsmotor te verkoop om sodoende die Sol Plaatje-munisipaliteit wat finansiële probleme ondervind te help.

Patrick Mabilo se voorganger, Mangaliso Matika, het die Audi Q7 van meer as ʼn miljoen Rand gekoop, ondanks teenstand deur opposisiepartye en inwoners.

Mabilo het aan Volksblad gesê die voertuig gaan op tender geplaas word en dat hy sy persoonlike motorvoertuig gebruik sedert hy laasjaar by Matika oorgeneem het.

Eskom sê daar is steeds ‘n moontlikheid van beurtkrag

Eskom sê daar is steeds ‘n moontlikheid van beurtkrag terwyl noodbronne gebruik word om die ligte aan te hou.

Die kragvoorsiener skryf dit toe aan aanlegte wat onverwags onklaar geraak het, en sê hoewel sommige opwekkingseenhede weer aangeskakel is na beplande en onbeplande instandhouding, is die toevoer nie voldoende om aan die huidige vraag te voldoen nie.

Woordvoerder Jan Oberholzer sê die verlengde gebruik van diesel en pompwater het ook gelei tot ‘n afname in die vlak van beskikbare bronne.

Die moordsaak van die Kaapstadse student Uyinene Mrwetyana sal na verwagting vandag na die hooggeregshof in Kaapstad oorgeplaas word vir verhoor.

Die moordsaak van die Kaapstadse student Uyinene Mrwetyana sal na verwagting vandag na die hooggeregshof in Kaapstad oorgeplaas word vir verhoor.

Die landdroshof in Wynberg het gister die uitstel toegestaan sodat die verdagte, die 42-jarige Luyanda Botha, met sy regspan kan beraadslaag.

Botha staan tereg om ‘n aanklag van moord, twee van verkragting en een van dwarsboming van die gereg.

Die 19-jarige Mrwetyana is in Augustus by die Claremont-poskantoor vermoor.

Die stad Kaapstad sê die groep van 51 brandbestryders wat amptelik gekwalifiseer het, sal met die aanbreek van die brandseisoen die bedryfspersoneel ondersteun

Die stad Kaapstad sê die nuwe groep van 51 brandbestryders wat amptelik gekwalifiseer het, sal met die aanbreek van die brandseisoen die bedryfspersoneel ondersteun.

Tussen 2017/18 en 2018/19 was daar ʼn styging van 13,5% in die aantal brande by informele wonings.

Raadsheer JP Smith sê daar was jaar tot jaar tussen 2018 en 2019 ook ʼn styging van bykans nege persent in bosbrande.

Dit het meegebring dat die aantal brande wat brandbestryders oor die algemeen moes bestry met 70% gestyg het.

Die verhoor van Jacob Zuma kan selfs nog langer vertraag word

Die verhoor van Jacob Zuma kan selfs nog langer vertraag word nadat hy appèl aangeteken het teen ʼn hofbeslissing dat hy vir korrupsie verhoor moet word.

Die staat voer aan dat die oudpresident in die 1990’s gunslone ontvang het tydens die omstrede wapentransaksie met vyf Europese maatskappye.

Die Nasionale Vervolgingsgesag het bevestig dat Zuma ʼn aansoek ingedien het om appèl aan te teken teen die Hooggeregshof in Pietermaritzburg se beslissing, dat sy verhoor op aanklagte wat insluit korrupsie, bedrog, omkopery en afpersing moet voortgaan.

Die MRK in die Wes-Kaap sal na verwagting later vandag klarigheid kry oor die Gelykheidshofsaak waarby die Springbok-slot Eben Etzebeth betrek word

Die Menseregtekommissie in die Wes-Kaap sal na verwagting later vandag klarigheid kry oor die Gelykheidshofsaak waarby die Springbok-slot Eben Etzebeth betrek word.

Hy word aangekla van ʼn rassistiese aanval op Langebaan in Augustus.

Kommissaris Chris Nissen het aan News24 bevestig dat ʼn regsmening oor die saak wat vanaf ʼn senior advokaat verkry is aan die kommissarisse voorgelê sal word.

Etzebeth het vroeër ʼn Hooggeregshofaansoek teen die kommissie ingedien waarin hy aanvoer dat die kommissie bevooroordeeld is teen hom.

Radio Rosestad Gala-aand 2019