Cyril Ramaphosa sê hulle sal nie toelaat dat staatsondernemings misluk nie

President Cyril Ramaphosa sê die land se staatsondernemings het groot bates, ’n groot en uiteenlopende aantal vaardige mense en goeie prestasierekords.

Ramaphosa sê in sy weeklike nuusbrief dat die regering nie sal toelaat dat enige van die strategiese ondernemings misluk nie.

Hy voeg by dat alle moontlike, selfs drastiese, stappe gedoen sal word om die ondernemings weer op dreef te kry.

Metrorail stel beeldmateriaal van 2 vermeende brandstigters vry

Metrorail het ’n beloning van R100 000 uitgeloof vir inligting oor twee verdagtes nadat 18 treinwaens verlede maand op die Kaapstadstasie in ’n brand vernietig is.

Die verlies beloop na beraming meer as R61 miljoen.

Die treindiens het beeldmateriaal van ’n kringtelevisie vrygestel waarop die twee mans op 28 November gesien kan word.

Die brandstigters kan tot 20 jaar agter tralies deurbring indien hulle skuldig bevind word.

Beurtkrag word weer verhoog na fase 4

Eskom het beurtkrag na fase 4 opgeskuif nadat hulle vroeër gesê het fase 2 sal die res van die dag tot elfuur vanaand toegepas word.

Die verandering na fase 4 word toegeskryf aan die oorstroming van sekere kragstasies na die aanhoudende reën die afgelope paar dae, veral in die noorde van die land, en onbeplande onderbrekings by van sy stasies.

Christopher Panayiotou se pa in Uitenhage doodgeskiet

Die pa van Christopher Panayiotou van die Oos-Kaap wat weens die moord op sy vrou agter tralies is, is in die vroeë oggendure in Uitenhage doodgeskiet.

Die 67-jarige Costa Panayiotou is twee keer gewond in die voorval voor ’n kafee in Markstraat waartydens sy voertuig gesteel is.

Dis later verlate by die nabygeleë Motherwell gevind.

Sy seun dien tans ’n lewenslange vonnis uit vir die beplanning van sy vrou, Jayde, se moord in 2015.

Eskom kan vandag weer Fase Een-beurtkrag instel

Eskom verander Fase 2 beurtkrag na Fase 4

Eskom gaan sy beurtkrag vanaf TWEE-UUR vanmiddag aanpas van Fase-2 na Fase-4.

Fase-4 sal na verwagting te minste tot môreoggend van krag bly.

Fase-2 beurtkrag is van vanoggend NEGE-UUR tot SES-UUR môre-oggend ingestel.

Groep 2 is tans aan die beurt tot HALF DRIE, daarna sal Groep 3 aan die beurt kom van TWEE UUR tot HALF VYF.

Volgens Netwerk24 het Eskom gister na bewering 12 300 megawatt op die kragnetwerk verloor, en sy noodplanne kan nie aan die tekort voorsien nie.

AgriSA sê hy is teleurgesteld met ‘n besluit van die Parlement se ad-hoc komitee oor grondhervorming

AgriSA sê hy is teleurgesteld met die besluit van die Parlement se ad-hoc komitee oor die wysiging van Artikel 25 van die Grondwet, om nie behoorlike raadpleging en openbare deelname toe te laat nie.

Die wetsontwerp maak voorsiening vir onteiening sonder vergoeding.

Die landbouliggaam sê hy het versoek dat die publikasie van die wysigingswetsontwerp uitgestel moet word tot ná die feesseisoen, maar die versoek is verontagsaam.

Hy is van oordeel dat dit probleme veroorsaak dat die komitee ʼn regverdige versoek vir behoorlike openbare deelname verwerp het oor so ʼn omstrede en moontlik verreikende stap.

ʼn Nasionale verbod word geplaas op die sametrekking van spleethoewige diere as gevolg van bek-en-klouseer

Die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, het ʼn nasionale verbod op die versameling van spleethoewige diere in die Staatskoerant afgekondig.

Dit sluit in die veilings, skoue en soortgelyke bedrywighede vir lewende hawe.

Dit volg ná die uitbraak van bek-en-klouseer in Limpopo.

Die woordvoerder van die ministerie, Reggie Ngcobo, sê hulle doen ʼn beroep op enigiemand om die verskuiwing van spleethoewige diere wat nie aan die regulasies voldoen nie, by hul staatsveearts aan te meld.

Beurtkrag wel vandag ingestel

Rosestad nuus het verneem dat fase-2 beurtkrag van vanoggend 9uur tot 6uur môre-oggend ingestel gaan word.

Groep 1 is tans aan die beurt tot 12:30, daarna groep 2 van 12 uur tot half 3.

Volgens Netwerk24 het Eskom gister na bewering 12,300 megawatt op die kragnetwerk verloor en sy noodplanne kan nie aan die tekort voorsien nie.

Die kragvoorsiener berig al die afgelope paar weke dat sy kragnetwerk daagliks onder druk verkeer, en dat beurtkrag enigetyd sonder waarskuwing ingestel kan word.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens sal ingrypende hervorming ondergaan

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens sal ingrypende hervorming ondergaan.

Die Minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, het aangekondig dat daar geen ander uitweg is om die sukkelende nasionale lugdiens te red nie.

Dit volg ná laasmaand se weeklange staking wat die lugdiens lamgelê en R50-miljoen per dag gekos het.

Die bestuur het toegegee dat die arbeidsoptrede die SAL tot op die randjie van ineenstorting gedryf het.