AfriForum sê dis duidelik dat Bheki Cele alles in die stryd sal werp om eerder wettige wapeneienaars te ontwapen as misdadigers

AfriForum sê dis duidelik dat die Minister van Polisie, Bheki Cele, alles in die stryd sal werp om eerder wettige wapeneienaars te ontwapen as misdadigers.

Dit volg nadat die minister verskeie keer gesê het dat hy sal voortgaan met sy veldtog vir ʼn wapenvrye Suid-Afrika.

Daar is tot dusver meer as 2000 wapens ingehandig as deel van die vuurwapen-amnestieprogram.

Ian Cameron van AfriForum sê Cele probeer opnuut die onbevoegdheid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens wegsteek deur die vryheid van Suid-Afrikaners aan bande te lê.

Telkom is van plan om 3000 poste te skrap

3000 werknemers van Telkom kan hulle werk verloor met die afhandeling van Telkom se hersamestellingsproses.

Die maatskappy is van plan om Artikel-189–kennisgewings aan die werknemers in sy groothandelafdeling, Openserv en sy verbruikersake-afdeling te oorhandig.

Met die laaste ronde van posverminderings kan Eskom sy personeel met 20% sny.

Dit volg nadat die Suid-Afrikaanse afdeling van Walmart, Massmart, samesprekings met vakbonde voer oor die sluiting van sy DionWired- en Masscash-winkels.

Dit kan die afdanking van meer as 1000 mense tot gevolg hê.

ʼn Groep ANC-oudstryders en veterane sê hulle is met afgryse vervul oor die aanvalle op Pravin Gordhan

ʼn Groep ANC-oudstryders en veterane sê hulle is met afgryse vervul oor die aanvalle op die Minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan.

Daar is toenemende druk op president Cyril Ramaphosa om hom as minister af te dank.

Die groep, wat Frank Chikane en Cheryl Carolus insluit, sê Ramaphosa is die werklike teiken van die ANC-politici en hulle meelopers wat die aanval op Gordhan lei.

Volgens die groep is die stap om die skuld vir die benarde omstandighede by Eskom op Gordhan te plaas agterbaks en oneerlik.

Hulle sê die staatsonderneming gaan gebukkend onder dekades se wanbestuur wat deur staatskaping vererger is.

‘n Sakeman het die SAPD gebruik om ʼn polisieverblyfkontrak gedurende die Sokkerwêreldbekertoernooi in 2010 te verkry

ʼn Afgetrede kolonel, Johannes van Loggerenberg, sê ʼn sakeman van KwaZulu-Natal, Thoshan Panday, het die SA Polisiediens se logistiese departement gebruik om ʼn polisieverblyfkontrak gedurende die Sokkerwêreldbekertoernooi in 2010 te verkry.

Panday wat bande met oudpresident Jacob Zuma het is na bewering deur die voormalige provinsiale polisiekommissaris, Mmamonnye Ngobeni,
bevoordeel om die tender te kry.

Van Loggerenberg het vandag aan die staatskapingskommissie gesê Panday het pryse kunsmatig verhoog.

Die Kernenergiekorporasie se raad het bedank

Die Minister van Minerale Bronne en Energie, Gwede Mantashe, sê sy departement is besig met die aanvulling van die raad van die staatsbeheerde
energiemaatskappy, die Kernenergiekorporasie van Suid-Afrika.

Dit volg na die bedanking van vier raadslede nadat hulle aangevoer het dat hulle geen steun van Mantashe ontvang nie.

Die vier ander raadslede het in 2018 reeds bedank maar is volgens berigte nooit vervang nie.

Mantashe sê hulle wil die bestuur van instellings in die Mineraal en Energie-portefeulje herstel.

Hy sê hulle sal terselfdertyd ook aandag skenk aan finansiële en bedryfskwessies.

SASSA het bewerings verwerp dat hy gratis skooldrag en skryfbehoeftes uitdeel

Die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap het bewerings verwerp dat hy gratis skooldrag en skryfbehoeftes uitdeel.

Dit volg nadat boodskappe laasweek op sosiale media versprei is.

Sassa se nasionale woordvoerder, Kgomoco Diseko, sê dis ontstellend dat sommige ongevoelige mense die tyd vind om sulke fopnuus uit te dink en met die emosies van behoeftiges te speel.

Eskom sê ondanks die oorstroming van sommige van sy kragstasies in Mpumalanga, stel hy nie beurtkrag vir vandag in die vooruitsig nie

Eskom sê ondanks die oorstroming van sommige van sy kragstasies in Mpumalanga wat Maandagnag tot ʼn verlies aan drie opwekkingseenhede gelei het, stel hy nie beurtkrag vir vandag in die vooruitsig nie.

Hy sê daar is steeds gestoorde krag in sy noodvoorraad beskikbaar om aan vandag se behoeftes te voldoen.

Eskom waarsku egter dat sy netwerk steeds as gevolg die ouderdom daarvan onder druk is en dat dit nog lank gaan neem om te herstel.

Tito Mboweni sê hy is oortuig daarvan dat die ANC die verkeerde besluit geneem het om die Reserwebank te nasionaliseer

Die Minister van Finansies, Tito Mboweni, sê hy is oortuig daarvan dat die ANC die verkeerde besluit geneem het om die Reserwebank te nasionaliseer.

Die resolusie is by die regerende party se nasionale konferensie in 2017 aanvaar.

Die bank se mandaat sal ʼn strydvraag wees tydens die ANC se algemene raadsvergadering later vanjaar.

Mboweni sê in ʼn Twitter-boodskap dat 90% van die sentrale bank se winste oorbetaal word aan die Nasionale Staatsinkomstefonds en daarom sal die land eers moet besin oor wat hy wil bereik met die nasionalisering.

Siya Kolisi is aangewys as die Britse Rugbyunie-skrywersklub se Persoonlikheid van die Jaar vir 2019

Siya Kolisi is gisteraand aangewys as die Britse Rugbyunie-skrywersklub se Persoonlikheid van die Jaar vir 2019.

Die Springbok-kaptein is in Londen deur die klub se meer as 200 lede vereer met die jaarlikse Pat Marshall-gedenktoekenning.

Die 28-jarige het bewonderaars regoor die wêreld beïndruk met sy prestasie op die veld by die Wêreldbekertoernooi in Japan en sy beleefdheid van die veld af.

Die afrigter, Rassie Erasmus, en die skrumskakel, Faf de Klerk, was ook benoem.

Cosatu sê die verskuiwing van Eskom na die Departement van Energie sal nie die krisis oplos nie

Cosatu het oproepe verwerp dat Eskom verskuif moet word van die Departement van Openbare Ondernemings na die Departement van Energie om toesig te verbeter.

Matthew Parks van die vakbondfederasie sê so ʼn skuif sal nie die land se energiekrisis op enige wyse oplos nie.

Hy sien die oproepe as politiekery en deel van die faksiegevegte om van minister Pravin Gordhan ontslae te raak en president Cyril Ramaphosa te verswak.

Eskom het intussen bevestig dat daar vandag, soos gister, geen beurtkrag in die vooruitsig gestel word nie.