Die Kommissie vir Geslagsgelykheid het politieke leiers veroordeel omdat hulle geslagsgeweld verpolitiseer om goedkoop politieke punte aan te teken

Die Kommissie vir Geslagsgelykheid het politieke leiers veroordeel omdat hulle geslagsgeweld verpolitiseer om goedkoop politieke punte aan te teken.

Die ANC-LP Boy Mamabolo het die leier van die EFF, Julius Malema, gister tydens die debat oor die staatsrede in die Parlement gevra of hy sy vrou mishandel.

Hy het dit ontken, maar teruggekap en president Cyril Ramaphosa daarvan beskuldig dat hy sy gewese vrou, Nomazizi Mtshotshisa, aangerand het.

Javu Baloyi van die kommissie sê geslagsgeweld moet ernstig opgeneem word.

Pravin Gordhan sê die Suid-Afrikaanse Lugdiens kan wel gered word

Die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, sê die Suid-Afrikaanse Lugdiens is die eerste staatsinstelling in die land wat in sakeredding geplaas is, dus is daar baie wat hieruit geleer kan word.

Hy het vandag terugvoer gegee aan ‘n gesamentlike sitting van die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekenings en die portefeuljekomitee oor Openbare Ondernemings.

Gordhan sê die sakepraktisyns het besluit dat SAL wel gered kan word, maar nie soos dit tans bestaan nie.

Die Suid-Afrikaanse Plaaslike Owerheidsvereniging verwelkom dat munisipaliteite toegelaat word om hulle eie krag van onafhanklike kragopwekkers aan te koop

Die Suid-Afrikaanse Plaaslike Owerheidsvereniging het die skuif om munisipaliteite toe te laat om hulle eie krag van onafhanklike kragopwekkers aan te koop verwelkom.

President Cyril Ramaphosa het laasweek aangekondig dat die regering sal begin met die aankoop van noodkrag van projekte wat elektrisiteit binne
12 maande ná goedkeuring aan die stelsel kan verskaf.

Die hoofbestuurder van Salga, Xolile George, sê hulle is bly dat die energiemark oopgestel word.

Gavin Watson se kinders, Lindsay en Roth, en sy broerskind, Jared Watson, is gedagvaar om voor ‘n vertroulike insolvensie-ondersoek te verskyn.

Die ontslape hoofbestuurder van Bosasa, Gavin Watson se kinders, Lindsay en Roth, en sy broerskind, Jared Watson, is gedagvaar om voor ‘n vertroulike insolvensie-ondersoek te verskyn.

Hulle sal ondervra word oor die sake van dié maatskappy wat van korrupsie beskuldig word. Bosasa se naam het herhaaldelik opgeduik in getuienis voor die staatskapingskommissie.

Volgens News24 het die maatskappy se likwidateurs ‘n hooggeregshofbevel verkry om die ondersoek van stapel te stuur en om die gewillige likwidasie na ‘n verpligte een om te skakel.

President Cyril Ramaphosa sê jong mense moet op ʼn sinvolle wyse by die ekonomie betrek word

President Cyril Ramaphosa sê jong mense moet op ʼn sinvolle wyse by die ekonomie betrek word, sodat die land voorspoedig en vooruitstrewend vooruit kan gaan.

Die president sê in sy weeklikse nuusbrief hy het die Presidensiële Jeug-indiensnemingsingryping van stapel gestuur.

Dit is ‘n strategiese nasionale vooruitskouing en plan, waarvolgens prioriteitsoptrede uiteengesit word om jeugwerkloosheid te hanteer.

Hy voeg by dat belanghebbendes moet toesien dat die las van werkloosheid nie in die toekoms jong mense kniehalter nie.

Eskom sê die uitbreiding van leefstyloudits om laer-vlak personeellede in te sluit is uiters belangrik om korrupsie by die kragvoorsiener uit te roei

Eskom sê die uitbreiding van leefstyloudits om laer-vlak personeellede in te sluit is uiters belangrik om korrupsie by die kragvoorsiener uit te roei.

Tydens die eerste fase van leefstyloudits, wat in 2018 begin het, het Eskom 365 van sy mees senior werknemers ondersoek.

Nadat die aanvanklike ondersoeke deur ‘n gekontrakteerde party afgehandel is, het Eskom 44 beweerde korrupsiesake na die Spesiale Ondersoekeenheid verwys vir verdere ondersoek.

‘n Woordvoerder van Eskom, Sikonathi Mantshantsha, sê die leefstyloudits word baie ernstig opgeneem.

Die verteenwoordiger van die Openbare Beskermer in die Vrystaat het ‘n beroep gedoen dat Busisiwe Mkhwebane uit die nasionale amp bedank

Die verteenwoordiger van die Openbare Beskermer in die Vrystaat het ‘n beroep gedoen dat Busisiwe Mkhwebane uit die nasionale amp bedank.

Sphelo Samuel het ‘n brief aan die Speaker van die nasionale Vergadering, Thandi Modise, geskryf en haar versoek om ondersoek in te stel na Mkhwebane en haar kantoor.

Hy beweer dat sy sekere toonaangewende politici beskerm en haar mag misbruik.

Volgens eNCA het Samuel onderneem om getuienis aan te bied.

Die petrolprys sal Woensdag opskiet met tussen R1,31 en R1,34 sent per liter in Gauteng, afhangend van die oktaanvlak

Die Automobiel Assosiasie voorspel vir volgende maand ‘n beduidende daling in brandstofpryse indien die huidige tendense voortduur

Die Automobiel Assosiasie voorspel vir volgende maand ‘n beduidende daling in brandstofpryse indien die huidige tendense voortduur.

’n Bestendige afname in internasionale oliepryse kan daartoe lei dat die prys van petrol met tussen 14- en 24-sent daal en dié van diesel met sowat 55-sent.

Die AA sê die verswakkende rand veroorsaak wel kommer.

Indien die geldeenheid verder verswak, sal die pryse dalk minder daal.

Man in hof in verband met verlede week se moord op ‘n bibliotekaresse van Grootbrakrivier

‘n Man sal na verwagting vandag vir die eerste keer in die Mosselbaaise Landdroshof verskyn nadat hy in hegtenis geneem is in verband met verlede week se moord op ‘n bibliotekaresse van Grootbrakrivier.

Die liggaam van die 22-jarige Claudine Nuys is agter ‘n crèche in die gebied aangetref nadat sy op pad huis toe van die werk af vermis geraak het.

Die 24-jarige verdagte is na ‘n reusesoektog in digte bosse in Jonkersberg vasgetrek.

Eskom het Fase-2 beurtkrag teen nege-uur gisteraand gestaak, toe die nood-opwekkingsvoorraad na behore herstel is

Eskom het Fase-2 beurtkrag teen nege-uur gisteraand gestaak, toe die nood-opwekkingsvoorraad na behore herstel is, maar waarsku dat die moontlikheid vir kragonderbrekings deur die loop van die week steeds hoog is.

Kliënte word daaraan herinner dat beurtkrag op kort kennisgewing ingestel kan word as gevolg van onbetroubare opwekkingsaanlegte asook enige skielike verandering in aanvraag.