Die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika sê dit is teleurstellend dat ras weer eens te berde gebring is met betrekking tot die finansiering van die koronavirus

Die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika sê dit is teleurstellend dat ras weer eens te berde gebring is met betrekking tot die finansiering van die koronavirus.

Neasa se woordvoerder, Gerhard Papenfus, sê met beide die R200-miljoen wat die regering aan die Nasionale Bemagtigingsfonds gegee het,
en dieselfde bedrag wat die agentskap vir die Small Enterprise Finance Agency gegee het om kwesbare ondernemings te help, het kleur weer ‘n bepalende rol gespeel.

Papenfus sê almal gaan in die proses ly.

Covid-19: Daar is nou meer as 730 000 infeksies en byna 35 000 sterftes wêreldwyd

Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê die koronavirus-pandemie belemmer gesondheidstelsels in baie lande regoor die wêreld.

Daar is nou meer as 730 000 infeksies en byna 35 000 sterftes wêreldwyd.

Die WGO se woordvoerder, Mike Ryan, sê lande moet voortgaan met pogings om die aantal gevalle te beperk en die verspreiding van die virus te vertraag.

Hy voeg by dat afsluitings noodsaaklik is omdat dit beteken dat minder mense blootgestel sal word.

Die DA is besorg oor die polisie se optrede tydens die inperking

Die DA het versoek dat ‘n onafhanklike ondersoek geloods word na beweringe van hardhandigheid teenoor die publiek deur weermaglede wat vir die inperktyd ontplooi is.

Die voorvalle het in video’s op sosiale media aan die lig gekom.

Die DA-parlementslid Kobus Marais sê hy het die bewerings met die waarnemende weermaghoof, Mannetjies de Goede, opneem.

Marais wys daarop dat die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, gesê het sulke optrede sal nie geduld word nie.

Intussen is altesaam 603 mense reeds van die begin van die staat van inperking af in die Wes-Kaap in hegtenis geneem omdat hulle nie die reëls nakom nie.

Die Wes-Kaapse verkeershoof, Kenny Africa, sê dit lyk asof mense eenvoudig net nie omgee nie.

‘n Skildery van die Nederlandse meester, Van Gogh, word op sy verjaarsdag gesteel

Diewe het ‘n Vincent van Gogh skildery uit ‘n Nederlandse museum wat vir die publiek gesluit was weens die koronavirus-uitbraak gesteel.

Die skildery,’n lente-landskap in Neunen, is na raming meer as R100-miljoen werd.

Die diewe het vroeg Sondagoggend deur die glas-voordeur van die Singer Laren-museum in Laren, gebars.

Die meesterstuk is op die dag van Van Gogh se geboorte 167 jaar gelede gesteel.

‘n Man is na bewering dood as gevolg van die polisie se hardhandige toepassing van die inperkingsmaatreëls

Die Maatskaplike Sekerheidsagentskap, Sassa, het bevestig dat twee bejaarde ontvangers van toelaes gister oorlede is terwyl hulle gewag het om hul maatskaplike toelaes te ontvang.

Die hoofbestuurder, Memela-Khambula, sê een persoon is gister in Pimville, Soweto, oorlede en die ander in Hammarsdale, KwaZulu-Natal.

Die omstandighede van die sterftes is nie bekend gemaak nie.

Diegene wat afhanklik is van maatskaplike toelaes ontvang hulle geld weens die koronavirus-pandemie verspreid oor ‘n paar dae.

Intussen ondersoek die Onafhanklike Ondersoekdirektoraat die dood van ‘n man in Ravensmead, Kaapstad, wat na bewering deur die polisie se hardhandige behandeling veroorsaak is toe hy in inperktyd bier wou gaan koop.

Die man het na die voorval by sy huis tussen gesinslede inmekaar gesak.

Die direktoraat-woordvoerder, Sonteiga Seisa, sê niemand is nog in verband met die man se dood inhegtenis geneem nie.

Ramaphosa is bekommerd dat sekere mense steeds nie die koronavirus ernstig opneem nie

President Cyril Ramaphosa sê die graderingsagentskap, Moody’s se besluit om Suid-Afrika tot rommelstatus af te gradeer, sal nie op enige wyse die regering se reaksie op die koronavirus-pandemie aan bande lê nie.

Daar is tans ‘n 1 326 bevestigde gevalle van die virus in die land wat reeds drie slagoffers geëis het.

Na wat berig word is die jongste geval ‘n man van die Vrystaat.

In sy toespraak aan landsburgers gisteraand het Ramaphosa gesê hulle sal voortgaan om die nodige gesondheids- ekonomiese en maatskaplike maatreëls te tref om die verspreiding van die virus te bekamp.

Ramaphosa is steeds bekommerd dat sommige mense nie die virus ernstig opneem nie.

Die Munisipale Gesondheidskommissie in Wuhan, China, het ‘n 57-jarige vroulike garnaal-verkoper as een van die eerste slagoffers van die koronavirus uitgeken

Die Munisipale Gesondheidskommissie in Wuhan, China, het ‘n 57-jarige vroulike garnaal-verkoper as een van die eerste slagoffers van die koronavirus uitgeken.

Die kommissie sê Wei Guixian is een van die eerste 27 pasiënte wat vroeg in Desember positief getoets het vir die virus en een van die 24 gevalle wat regstreeks met die seekosmark verbind is.

Sy het intussen gesond geword.

Cyril Ramaphosa sê inperking is beste manier om die verspreiding van die koronavirus te beperk

President Cyril Ramaphosa sê dit is baie duidelik dat die bevolking wat tuis bly die mees effektiewe manier is om die verspreiding van die koronavirus te bekamp.

Suid-Afrika is tans in ‘n 21-dae-lange nasionale afsluiting.

In sy weeklikse nuusbrief sê Ramaphosa die verhaal van die 114 Suid-Afrikaners wat uit Wuhan in China ontruim is behoort vir die land in die moeilike weke wat voorlê, aanmoediging en hoop te gee.

Hy voeg by dat dit belangrik is dat die inperking afsluiting en alle ander noodmaatreëls streng nagekom en konsekwent toegepas moet word.

Intussen is agt mense in Drakenstein in die Kaapse Wynlande in hegtenis geneem en boetes van R1 500 rand elk opgelê, omdat hulle nie die nasionale
afsluitings-regulasies gehoorsaam nie.

Boetes is ook aan nege sjebien-eienaarsuitgereik en sommige moes hul besighede sluit.

Die woordvoerder van die Drakenstein-munisipaliteit, Riana Geldenhuys, sê wetstoepassing sal voortgaan om padblokkades en patrollies uit te voer.

Die verbod op die verkoop van sigarette is oënskynlik opgehef

Die Suid-Kaapse Tuinroete-distriksmunisipaliteit het die verbod op die verkoop van sigarette tydens die afsluitingsperiode opgehef.

Die nasionale polisiewoordvoerder, Vish Naidoo, word aangehaal dat rokers landswyd binne die volgende paar dae toegelaat sal word om sigarette saam met hul kruideniersware te koop, indien die supermark tabakprodukte mag verkoop.

Geen verkope van sigarette op hul eie sal toegelaat word nie.

Die minister van Polisie, Bheki Cele, het vroeër, as deel van die koronavirus afsluitmaatreëls, ‘n verbod op die verkoop van sigarette geplaas.

Vir meer inligting oor Covid-19 gaan na www.sacoronavirus.co.za

Die koronavirus eis nog ‘n slagoffer in Suid-Afrika

Daar is bevestig dat ‘n 74-jarige man van Ladysmith in KwaZulu-Natal die tweede koronavirus-sterfte in Suid-Afrika is.

Die minister van Gesondheid, Zweli Mkhize, sê die man was aan ‘n ventilator gekoppel by ‘n privaat hospitaal.

Hy het ná ‘n besoek aan die Krugerwildtuin saam met sy gesin met griep-simptome teruggekeer.

Mkhize sê die slagoffer is Vrydag met Covid-19 gediagnoseer.

Sy gesin en 14 gesondheidswerkers, insluitend drie spesialiste, wat met hom kontak gehad het, is in kwarantyn en word dopgehou.

Mkhize het ook bevestig dat die aantal Covid-19-gevalle in Suid-Afrika met 93 toegeneem het vandat Saterdag se syfers bekend gemaak is.

Dit beloop nou ‘n 1 280. Gauteng het 584 gevalle – die hoogste provinsiale getal.

Vir meer inligting oor Covid-19 gaan na www.sacoronavirus.co.za