Nog slegte nuus vir Suid-Afrika se ekonomie

Suid-Afrika se ekonomie is deur nog slegte nuus getref nadat die kredietagentskap S&P Global die land se soewereine kredietgradering tot rommelstatus verlaag het.

Die agentskap het die impak van Covid-19 op ‘n sukkelende ekonomie as rede vir die besluit aangehaal.

S&P sê Suid-Afrika se ekonomiese agteruitgang sal ‘n verdere skerp Covid-19-verwante insinking moet trotseer.

Die verwagting is nou dat die ekonomie vanjaar met 4,5% sal inkrimp.

Die Nasionale Tesourie het sy teleurstelling oor die besluit uitgespreek.

Sapu vra vir meer beskerming vir polisiebeamptes tydens inperking

Die Suid-Afrikaanse Polisie-unie doen ‘n beroep op die minister van Polisie, Bheki Cele, om meer te doen om beamptes teen die koronavirus-pandemie te beskerm.

Meer as 80 beamptes het reeds positief getoets vir die virus.

Sapu se president, Mpho Kwinika, sê die regering moet meer doen as om net persoonlike beskermende toerusting te verskaf aan beamptes wat die afsluitregulasies handhaaf.

AfriForum sê die regering se planne om skole te heropen is onduidelik

AfriForum eis meer duidelikheid oor die heropening van skole.

Die regte groep verwelkom die beplande terugkeer vir sekere grade, maar sê die feit dat 3 500 skole in die land nog steeds nie lopende water het nie beteken dat hulle nie higiënemaatreëls behoorlik sal kan toepas nie.

AfriForum voeg by dat die aantal leerders per klas ook nog nie duidelik uitgespel is nie.

Landbou kry ‘n hupstoot tydens die Vlak-4-inperking

Die minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling Thoko Didiza het aangekondig dat die landbousektor van môre af weer ten volle in bedryf sal wees.

Didiza het die belangrikheid daarvan beklemtoon dat alle boere en hulle werkers streng veiligheidsmaatreëls moet toepas.

Verskeie nywerhede wat landbou ondersteun word ook heropen.

Intussen sê die minister van Ekonomiese Ontwikkeling Ebrahim Patel die regering is oorval met voorstelle en beroepe van vakbonde, sakeleiers en indiwidue oor watter nywerhede weer toegelaat moet word om te begin werk.

Hy maan dat as alle besighede skielik weer oopgestel word, dit vlak vyf-inperking weer noodsaaklik kan maak.

Patel maan ook fabrieke wat weer toegelaat word om aan die gang te kom dat hulle hul werksaamhede so sal moet herstruktureer dat elke werknemer ‘n geleentheid kry om te werk.

‘n Kampvegter vir gehoorgestremdes sê die onderskrifte wat gebruik word tydens president Ramaphosa se televisie-toesprake is ontoeganklik

‘n Kampvegter vir gehoorgestremdes sê die onderskrifte wat gebruik word tydens president Cyril Ramaphosa se televisie-toesprake oor Covid-19 is nie toeganklik vir almal met swak gehoor nie en verg te veel duur data.

Fanie du Toit van die Nasionale Raad vir Persone met Gestremdhede sê die eensydige siening dat alle gehoorgestremdes gebaretaal magtig is, is ook ‘n onreg.

‘n Vakbond sê ‘n besluit is geneem om die SAL te sluit

Die vervoervakbond NTM beweer dat ‘n besluit geneem is om die Suid-Afrikaanse Lugdiens te sluit en ‘n nuwe lugdiens te stig.

Dit volg nadat die redery se sakereddingspraktisyns aanbeveel het dat die hele arbeidsmag uit diens gestel word.

NTM se woordvoerder, Mashudu Raphetha, het aan eNCA gesê daar is tydens ‘n vergadering met die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, besluit dat die regering nou geld gaan probeer kry vir skeidingspakkette.

Skole open dalk vanaf volgende Woensdag slegs vir graad sewe en graad 12

Die departement van Basiese Onderwys sê dat skole dalk vanaf volgende Woensdag slegs vir graad sewe en 12 kan heropen.

Die datum is egter onderhewig aan verandering.

Direkteur-generaal Hubert Mathanzima Mweli het ‘n gesamentlike vergadering tussen die Parlement se portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys en die gekose komitee vir Onderwys en Tegnologie, Sport, Kuns en Kultuur hieroor ingelig.

Hy het ook gesê dat die skoolkalender gewysig is en die Junie- en September-vakansie verkort sal word.

Die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, sal na verwagting binnekort die datum vir die heropening van skole bevestig.

‘n ANC-studiegroep striem AfriForum en Solidariteit oor hul hofgeding teen die toerisme-hulpfonds

Die ANC se parlementêre studiegroep oor toerisme het sy steun toegesê aan die minister van Toerisme, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, se besluit om driedubbele BEE-klassifikasie te gebruik om sakeondernemings te keur vir die bedryf se hulpfonds.

Die voorsitter, Supra Mahumapelo, sê hulle is geskok en teleurgesteld oor AfriForum en Solidariteit se hofgeding om die vereiste te probeer skrap.

Mahumapelo sê die twee groepe bevestig slegs dat die stryd teen die ongeregtighede van die verlede steeds voortduur.

Die koronavirus-pandemie toon nog geen tekens van ‘n afname in Suid-Afrika nie

Die minister van Gesondheid, Zweli Mkhize, sê daar is nog geen tekens dat die koronavirus-pandemie afneem nie.

Suid-Afrika het 4 996 gevalle van die virus en 93 sterfgevalle.

Mkhize sê hoë bloeddruk, diabetes en vetsug is sommige van die uitdagings in die bevegting van die virus.

Hy sê voorts dat 135 gesondheidswerkers in die openbare en privaat gesondheidsektor besmet is.

Oor ‘n ander onderwerp sê Mkhize die meer as 200 Kubaanse gesondheidswerkers wat in die land aangekom het, is nie hier om enigiemand se werk oor te neem nie.

Hulle sal steun verleen omdat hulle kennis van gemeenskapsgesondheid het waaroor Suid-Afrika nie beskik nie.

Hy sê hulle sal in verskeie provinsies ontplooi word

‘n Onderwyshoof glo skole kan die jaar nog suksesvol voltooi

Die departement van Basiese Onderwys doen vandag ‘n voorlegging aan parlementslede oor onderwys in die inperking en die heropening van skole.

Onderwysorganisasies meen provinsiale onderwysdepartemente het nie genoeg planne om vanjaar suksesvol die akademiese jaar te voltooi nie.

Die hoof van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, Brian Schroeder, sê sy departement is reeds besig met ‘n omvattende aanlynprogram.