Nie minder nie as 28 plase in die Vrystaat is op die skok-lys van die ANC wat
betref grondonteiening sonder vergoeding.

Netwerk24 het die afgelope naweek berig oor die lys van sowat 200 plase wat die regerende party teiken vir onteiening sonder vergoeding.

Artikel 25 van die grondwet is nog nie verander om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak nie, maar dit blyk die ANC het reeds lank vooraf planne begin maak om grond by boere weg te neem.

Volgens Vrystaat Landbou se president, Francois Wilken, gaan die kwessie dringend bespreek word op die organisasie se kongres wat hierdie week in Bloemfontein plaasvind.

Volgens Wilken is die hele proses onwetting omdat die ANC die huidige wet op onteiening totaal ignoreer.