ALLES OOR ALFA 2016 OP AGRIFM

Die Afridome in Parys in die Vrystaat gaan van 27 September tot 1 Oktober in rep en roer wees vir die heel eerste ALFA-ekspo.

Die African Livestock Trade Fair (ALFA) word vanjaar vir die eerste keer aangebied. Hierdie eiesoortige ekspo is ’n eerste in Suid-Afrika en Afrika en mik om ‘n ’n toonvenster vir Suid-Afrika se uitsonderlike veebedryf te skep.

Dit dien ook as ‘n basis vir die uitruil van kennis en tegnologie-oordrag en ’n handelsplatform wat koper en verskaffer, plaaslik en oor die Afrika-grense heen, by mekaar sal uitbring.

“Die ALFA-ekspo beloof ’n groot verskeidenheid uitstallings, werkswinkels en kursusse, asook ’n magdom geleenthede om praktiese boerderykennis op te doen en met ander rolspelers in die veebedryf interaksie te hê.”

Die ALFA-ekspo se wese lê opgesluit in sy naam: African Livestock Trade Fair.

Dit is ’n handelsekspo wat die verskillende fasette van die veebedryf en sy waardekettings uit ’n verhandelings- en tegnologie-perspektief wil aanbied tydens ’n week by die mees sentrale en toeganklike fasiliteit vir die veebedryf.

Dit is iets wat waarde kan toevoeg tot die streekskoue en veegeleenthede wat reeds bestaan.