Besoeke deur sogenaamde BBP’s aan Bosasa-maatskappye is na bewering verberg

Besoeke deur sogenaamde BBP’s aan Bosasa-maatskappye is na bewering verberg

Die tegniese streekskoördineerder by Global Technology Systems, ʼn filiaal van Bosasa, Richard le Roux, sê hy het gereeld opdrag ontvang om alle beeldmateriaal vanaf die kameras en bedieners te wis nadat BBP- en BBBP-gaste die maatskappy se perseel besoek bet.

In sy getuienis voor die staatskapingskommissie vandag het Le Roux gesê die opdrag het gekom van hetsy die hoofbestuurder van Bosasa, Gavin Watson, of van die voormalige werknemer, Angelo Agrizzi.

Le Roux sê hy het oor die algemeen nie na die materiaal gekyk voordat hy dit gewis het nie, maar onthou dat hy wel na een greep gekyk het.

Le Roux sê hy het ook ʼn spesiale projekspan gelei wat geslote baan televisiekameras en elektriese heinings geïnstalleer het en onderhoud uitgevoer het by ministers en amptenare se wonings.

Een só ʼn projek was by die huis van die minister van Omgewingsake, Nomvula Mokonyane, in Krugersdorp.