Die Cheetahs het die 29-jarige flank Oupa Mohoje se kontrak tot Mei aanstaande jaar verleng

Die Cheetahs het die 29-jarige flank Oupa Mohoje se kontrak tot Mei aanstaande jaar verleng.

Die ervare Mohoje het die Suid-Afrikaanse A-span teen die Engelse Saxons in 2016 gelei en in 19 wedstryde vir die Springbokke uitgedraf.

Hy was ook kaptein van die Cheetahs in die 2018/19 Pro-14 seisoen voor hy ’n ernstige kniebesering opgedoen het.

Die Vrystaatse span sê Mohoje se leierskap is uiters waardevol.

Mike Tyson kry ‘n aanbod van R19-miljoen om weer deur die toue te klim

Die legendariese Mike Tyson is R19-miljoen aangebied om weer sy bokshandskoene aan te trek en die rugby-ster Sonny Bill Williams in ’n vertoongeveg te takel.

Dit volg nadat die 53-jarige swaargewig-ikoon onlangs bekend gemaak het dat hy in gevegte vir liefdadigheid in die kryt wil klim.

Tyson het in sy loopbaan 76% van sy gevegte gewen.

Williams het daarenteen nog nooit verloor nie.

Sokkerwedstryde word dalk ná die aflsuiting verkort

Brittanje se Professional Footballers’ Association se hoofbestuurder wil hê klubs moet dit oorweeg om wedstryde se twee helftes minder as 45 minute elk te maak wanneer bedrywighede weer aan die gang kom.

Gordon Taylor sê dit sal help om spelers se werklas te verlig.

Die BBC berig dat al 20 Premierliga-klubs op ‘n konferensie planne bespreek het vir die hervatting van oefensessies dié maand, met wedstryde wat moontlik in Junie weer aan die gang kan kom.

‘n Engelse stut oefen saam met sy klub terwyl die nasionale unie beweer hy is in afsondering

Engeland sê die stut, Mako Vunipola, het homself afgesonder as voorsorgmaatreël weens die korona-virus en sal nie beskikbaar wees vir sy span se
Sesnasies-wedstryd die naweek teen Wallis op Twickenham in Londen nie.

Hy het Tonga onlangs om persoonlike redes besoek, en moes deur Hongkong reis op pad terug.

Dié Chinese streek is swaar getref deur die virus.

Die Rugbyunie sê Vunipola is nie siek nie, maar die afsondering is slegs ‘n voorsorgmaatreël.

Dit het egter aan die lig gekom dat Vunipola intussen saam met sy klub Saracens oefen.

Siya Kolisi is aangewys as die Britse Rugbyunie-skrywersklub se Persoonlikheid van die Jaar vir 2019

Siya Kolisi is gisteraand aangewys as die Britse Rugbyunie-skrywersklub se Persoonlikheid van die Jaar vir 2019.

Die Springbok-kaptein is in Londen deur die klub se meer as 200 lede vereer met die jaarlikse Pat Marshall-gedenktoekenning.

Die 28-jarige het bewonderaars regoor die wêreld beïndruk met sy prestasie op die veld by die Wêreldbekertoernooi in Japan en sy beleefdheid van die veld af.

Die afrigter, Rassie Erasmus, en die skrumskakel, Faf de Klerk, was ook benoem.