Ken jy my?

1. Eerste dag by die werk 
Ek sal nooit vergeet nie, my eerste solouitsending was op my huweliksherdenking. Dit sal altyd ‘n ekstra spesiale dag vir my wees! My maag was vol vlinders, my tong het geknoop vir als en my vingers het al die verkeerde knoppies gedruk! My senuwees was gedaan! As ek mooi daaraan dink, is daar nog elke keer vlinders in my maag met ‘n uitsending 😊

2. Wat sal jy jou boot noem? 
Bubbles 😊

3. Wat irriteer jou die meeste?
Mense wat nie ander ‘n plekkie in die son kan gun nie en wat lelik is met ander sonder om rede te hê. En dan natuurlik mense wat so lekker veroordeel…

4. Watse vreemde gewoonte het jy?
My penne en potlode se skryfpunte moet altyd na links kyk as dit op my tafel lê en na voor wys as dit in my laai is.

5. Daardie een ding wat nie by die werk moes gebeur nie 
My tong laat my gereeld in die steek deur nié die woord reg uit te spreek wat ek aan dink of soos ek dit wil uitspreek nie. Ek het ‘n ruk gelede een van Engelbert Humperdinck se liedjies gespeel en toe ek dit wil terugaankondig, het sy van uitgekom sonder die ‘n’ aan die einde. Ek het so groot geskrik dat ek nie ‘n woord verder kon uitkry nie en het maar net dadelik oorgegaan na die volgende liedjie.
Om eerlik te wees, ek het nog nooit weer daarna een van sy liedjies gespeel nie, uit vrees vir foutiewe uitsprake! 😊