Ken jy my?

1. Eerste dag by die werk
My eerste dag in die uitsaai, was by Springbokradio in Seepunt, Kaapstad. Ek het die rol van ‘n jong dokter gespeel in een van die middagvervolgverhale. Dit was in 1980.
Die regisseur, Suzaan van Wyk (rus haar siel), het skielik tydens die opname die ateljee binnegestorm en my met haar handsak oor die kop en lyf geslaan. Dit was, sou ek later agterkom, toe ek ‘n bietjie te hard op die mikrofoon gespeel het. Jy het net sigaretstompies uit die handsak sien trek!
Haar woorde met die aanslag om my mik-mak te maak, kan ek nie hier herhaal nie, maar ek het daarna nooit weer die fout gemaak nie. Met ‘n rooigesig het ek selfs haar stompies ewe gedwee opgetel van die vloer af.

2. Wat sal jy jou boot noem?
As ek ‘n boot sou besit, sou ek hom waarskynlik, Poseidon se Perd, noem. Ek is ‘n diepseeduiker en het groot respek en bewondering vir die donker dieptes. Dit is die een plek waar ek van alles kan vergeet en my verloor in die wonderwêreld van die waterryk.

3. Wat irriteer jou die meeste? 
‘n Klippie wat ek kwalik uit my skoen kan kry, is mense wat nie hul woord kan hou nie. Is dit dan so moeilik om by jou “ja” of jou “nee” te bly?
Omdat ek ‘n Skerpioen is, is konstantheid vir my belangrik. Ek raak verveeld met mense wie se ja en amen rondval. Respek en vertroue is twee van die pilare wat ek na ‘n vriendskap toe bring. Ek verwag dieselfde van ‘n ander party. As dit nie die geval is nie, is daar nie ‘n tafel met vier pote waarby ons kan kuier nie. Dan beweeg ek gewoon aan.

4. Watse vreemde gewoonte het jy?
Gewoontes is dinge wat ‘n mens aanleer. Dus kan dit afgeleer word ook. Dinge soos: rook, vloek, perfeksionlisme, ens.
As jy my gewoonte van afsondering as ‘n vreemde gewoonte beskou, sal jy moontlik daarmee deernis hê as jy weet dat ek ‘n algehele introvert is. Dit is slegs in afsondering waar my batterye weer krag kry.

5. Daardie een ding wat nie by die werk moes gebeur nie
Die een ding wat nooit by die werk moes gebeur het nie, is dat die baas uitgevind het ek kan meer doen as net uitsaai. Soms is dit beter om nie met jou gawes en talente op skou te loop nie.
Omdat jou gawes, talente en vaardighede egter vir jou genot bring, is jy dikwels die slagoffer van goedkoop arbeid. My oordeelsfout! Nie die baas s’n nie. Hy doen gewoon waarvoor hy aangestel is.

Gelukkig het hierdie Skerpioen se angel min of meer tot rus gekom.
Wysheid lê meestal in stilswye.