Ken jy my?

1. Eerste dag by die werk
Dit was ‘n Sondagmiddag. ‘n Sterk stormwind het die stasie se dak afgewaai. Dit het ingereën en ons was van die lug af.
Oom Willem le Roux, stigterslid en destyds hart en siel van die stasie, het my gebel en gevra ek moet ingaan en net iets op die lug speel totdat Leon Schoombee, toe die stasie se hoogs bekwame tegnikus, die skade herstel het.
Ek het geen benul gehad hoe die mengbank werk nie, en Leon nog minder. Ons het knoppies gedruk, die mikrofoon oop-en-toe gemaak.
In die diskoteek was ‘n paar CD’s met Strauss-musiek en ek het gedink dit sal nogal goed werk op ‘n Sondagmiddag. Oom Willem het by die huis bly luister totdat hy Die Blou Donou kon hoor. Vir my – en vir Leon – was dit ‘n vuurdoop.

2. Wat sal jy jou boot noem?
As ek ooit die onwaarskynlike geluk sou oorkom om ‘n boot te besit, sal ek dit KAMMALAND noem. Jy weet, daardie bootjie na …

3. Wat irriteer jou die meeste?
Klein ongediertetjies wat saans rondvlieg en mens se somer bederf.

4. Watse vreemde gewoonte het jy?
Eet presies twee-uur in die nag brosroosterbrood en melk.

5. Daardie een ding wat nie by die werk moes gebeur nie
Dit was ‘n Saterdagoggend en minute voordat ek moes begin uitsaai. Ek het oudergewoonte ‘n glas water ingetap om ateljee toe te neem, toe die glas uit my hand val en breek. Ek gryp om te keer, en die gebreekte glas kloof my linkerhand se pinkie oop en ek bloei oor alles.
Die vorige omroeper was al weg en ek het byna ‘n rol toiletpapier om my vinger gedraai om die bloed te stop. Die pleisters in die noodhulpkissie het niks gehelp nie.
Al bloeiende moes ek maar uitsaai! Dis wanneer jy besef hoe belangrik jou pinkie en elke vinger is; wanneer jy enigiets moet doen!