Ken jy my?

1. Eerste dag by die werk
Daardie skuldgevoel dat jy niemand se naam regtig kan onthou nie – al het jy almal die vorige dag ontmoet. By die ateljee het ek onder andere Michiel afgesny terwyl hy uitsaai.

2. Wat sal jy jou boot noem?
Waterwurm

3. Wat irriteer jou die meeste?
Die misbruik van die woord, “daggie”.

4. Watse vreemde gewoonte het jy?
Ek leef in ‘n droomwêreld. Ek hou konserte vir myself as ek alleen by die huis is. In my kop was ek ook al op The Ellen Degeneres Show en gaan trou met ‘n lid van Spoegwolf. Verbeelding is vir my alles!

5. Daardie een ding wat nie by die werk moes gebeur nie
Jare gelede was ek ‘n onderwyser. Op Valentynsdag moes almal, soos gebruiklik, rooi aantrek. Ek besit bitter min rooi klere, maar kon toe ‘n hemp iewers in die kas uitkrap. Ek het ook net op daardie dag ‘n spesifieke broek gehad wat by die hemp sou pas, maar hy was bietjie knap. Teen my beterwete in het ek tog besluit om die broek aan te trek. By die skool gekom, gelukkig so ‘n halfuur voor die klok lui, is ek in my klas en maak reg vir die eerste periode. Ek gaan sit toe by my lessenaar met die knap broek en daar gebeur dit: ‘n skeurklank weergalm deur die klas. Ek voel-voel in ongeloof en sien toe dat my geluk op ‘n einde is. Die broek het netjies geskeur en my agterstewe sug van verligting om uit die broek te wees. Tot vandag toe weet ek nie hoe ek dit reggekry het nie; ek het uit my klas, verby die skoolkinders tot in my kar beweeg, vinnig huis toe gery, heeltemal ander klere gaan aantrek en was betyds vir skool.
Ek glo niemand het my gesien nie, want niemand het iets gesê nie behalwe een meisie wat later gevra het: “Juffrou, het juffrou nie vanoggend ander klere aangehad nie?”