Ken jy my?

1. Eerste dag by die werk 
Daar was soveel eerstes! Daai eerste dag in die Kampusateljee toe ek nie die platespeler op die regte spoed vir die plaat gestel het nie en OMD klink soos Chipmunks! Steeds het hulle my daar laat werk!
Die eerste “Tempo”-program op Radio Oranje – waar ek soos ‘n tiener met puberteitsindroom geklink het, so erg was die sunuwees! (My eerste plaat was Live is Life van Opus!) – En hulle laat my toe om daar te werk!
Die eerste Rosestaduitsending, vanaf Brandfort, toe ek so verbaas was dat mense my groet dat die keel toegetrek het en ek die nuus laat klink het soos ‘n onderwater geroggel! En die baas besluit ek mag maar daar werk! En ek doen dit steeds – en amper elke keer voel dit soos ‘n eerste keer!

2. Wat sal jy jou boot noem? 
Aanmaakkoeldrank – dis baie naby aan water!

3. Wat irriteer jou die meeste?
Mense wat dink hulle weet…

4. Watse vreemde gewoonte het jy? 
Ek is total obsessief kompulsief; pak alles netjies in rye! Skuif jou portrette reg of ek doen dit vir jou!

5. Daardie een ding wat nie by die werk moes gebeur nie 
Hoeveel tyd het jy? Ek probeer saggies die rek van my stapel plate afhaal terwyl Jeannette die nuus lees, toe die rek breek en dit tref my…daar! Sak soos ‘n gekweste bok neer op die grond in pyn en sy lag so dat Anton van die eerste vloer of moes ateljee toe hardloop en by haar oorneem. Of die dag toe ek net na vyf die oggend in die ateljee aan die slaap raak en die luisteraars word vir 20 minute getrakteer op ‘n boeremusiek plaat tot sekuriteit my kom wakkermaak.
Die beste was dat dit ‘n SAUK transkripsieplaat was en tussen elke snit is daar ‘n aankondiging in ‘n bitter droë stem wat se, “SAUK-opname, track 1, snit 1…2…3…4. (En steeds het Christo Olivier my daar laat werk!)