Ken jy my?

1. Eerste dag by die werk
Die wyse Mark Twain het gesê, “Die twee belangrikste dae in jou lewe is die dag van jou geboorte en die dag wat jy uitvind WAAROM jy gebore is”
Die eerste dag wat ek my voete in die ateljee gesit het, het ek my, WAAROM, gevind. Dit was senutergend, maar ek het ongelooflik tuis gevoel. Tot vandag toe is dit een van my gunsteling plekke om te wees. As daardie rooi lig aangaan en die adrenalien vloei, dan is ek tuis!

2. Wat sal jy jou boot noem?
Bootjie-vir-‘n-stootjie/skippie-vir-‘n-knippie/Kabeljou-Kabelmyne

3. Wat irriteer jou die meeste?
Mense wat hulle noodflikkers (hazards) aansit en dink dit maak hulle deurskynend en onaantasbaar. Hulle vermoed dat dit jou die toestemming gee om enige plek te parkeer, selfs in spitsverkeer. Dis al. Verder is ek ‘n rustige ou. Min dinge pla my.

4. Watse vreemde gewoonte het jy?
Ek kou alles wat plastiek is: pendoppies is my gunsteling.

5. Daardie een ding wat nie by die werk moes gebeur nie
Dit was so vyf minute voor die 16:00-nuusbulletin op ‘n weeksdag. Ek was net besig om die nuus voor te berei. Die druk is tasbaar in die ateljee daardie tyd van die dag. Toe hoor ek ‘n angswekkende gil vanuit die ontvangs-area. Ek het dadelik iets vreemds verwag. Die volgende oomblik bars Alecia, die ontvangsdame, by die ateljee in, histeries aan’t gil: “HELP!, ‘n vlieg het in my oor ingevlieg en hy fladder!” Elke keer as mnr. Vlieg sy vlerke klap, gil sy die dak af.
Tussen die warboel deur loop die uurglas leeg na die nuus toe. En gedagtig aan Alecia se verknorsing, dink ek aan ‘n blink plan (as jy ‘n omroeper is moet jy op jou voete kan dink). Ek gryp die blik Doom en spuit dit by gaar oor in sodat die vlieg net kan ophou fladder.
Terwyl Alecia ‘n teelepel in die kombuis gaan soek, lees ek solank die nuus.
Die lepel was hulp was tevergeefs, want die agterkant wou nie in haar oor pas nie.
Lang storie kort: Die Doom het die vlieg laat stillê en Alecia moes dokter toe. Gelukkig het sy niks oorgehou van daardie dag se OOR-dosis Doom nie.