Die Springbok-slot Eben Etzebeth word glo deur strafregtelike en siviele klagte, asook ’n klag van haat spraak, in die gesig gestaar

Die Springbok-slot Eben Etzebeth word glo deur strafregtelike en siviele klagte, asook ’n klag van haat spraak, in die gesig gestaar.

Netwerk24 berig dit is volgens adv. Buang Jones, hoof van die Menseregtekommissie (MRK) se regsafdeling in Johannesburg.

Die MRK het gister bevestig dat hy môre sy klag van haat spraak teen Etzebeth by die gelykheidshof gaan indien.

Dit spruit uit ’n voorval in Langebaan waarin hy en die groep mense wat saam met hom was, na bewering twee mans aangerand en rassistiese aanmerkings gemaak het.

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het volgens Jones gesê hulle werk aan ’n strafsaak teen Etzebeth.

Eerw. Chris Nissen, ’n MRK-kommissaris in die WesKaap, sê die polisie ondersoek ’n aanrandingsaak, maar nog strafregtelike klagte kan moontlik bygevoeg word.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die NVG, sê die dossier is terugverwys na die ondersoekbeampte vir verdere ondersoek.