Droogte: Wintervoer ‘n wesenlike probleem

Agri SA sê die tekort aan wintervoer is ‘n wesenlike probleem en enige bydraes deur die publiek word hoog op prys gestel.

Dié Landbou-organisasie het pas sy Droogtehulverslag bekendgemaak en Agri SA doen opnuut ‘n beroep op die korporatiewe sektor en die algemene publiek om voort te gaan met hul finansiële bydraes aan dié fonds.

”Agri SA word daagliks oorval deur produsente wat nie meer weet wat hul te doen staan nie,’ lui die verslag.

“Hulle is net nie meer in staat om voer aan te koop nie. Boorgate droog op en vee vrek op groot skaal. Plaaswerkers en hul families het ook ‘n groot nood aan humanitêre hulp.”

Meer as 12 ooo kommersiële en 3000 opkomende boere is reeds gehelp uit geld wat deur die Droogtehulpfonds ingesamel is.

1300 Donateurs het geld geskenk.

66 557 voerbale is regoor die land versprei.

Die korporatiewe sektor, internasionale donateurs, kerke en die publiek het R 16 miljoen bygedra tot die fonds. Boere in die Vrystaat,  Noord-Kaap en Noordwes het elke meer as R 3 miljoen van die geld ontvang.

Agri SA sê in die verslag verdere uitbetalings vanuit die droogtefonds sal in Augustus en September aan provinsies wat ‘n erge tekort aan wintervoer ervaar, gemaak word.

Indien jy ‘n bydrae wil maak, kan dit in die rekening inbetaal word:

Begunstigde: Agri SA Rampfonds
Bank: ABSA
Rekening Tipe: Tjek
Rekening Nommer: 40-6854-0775
Tak Kode: 632 005 (Business Bank – Pretoria East)
Begunstigde Verwysing: RAMP