Die ANC het met sy middernagtelike aankondiging verlede week dat die Grondwet verander gaan word, die gronddebat verby die punt van redelikheid gedryf.

Dit raak al duideliker dat dit ’n magspel binne die ANC is wat die party verdeel en grond word gebruik om die fokus te skuif. Só sê Francois Wilken, President van Vrystaat Landbou (VL).

“Die mense word op munisipale vlak deur swak bestuur en dienslewering in die steek gelaat, wat emosies dryf en sinvolle oplossing-gedrewe gesprekvoering feitlik onmoontlik maak.”

Volgens hom is die onlangse openbare verhore gedryf deur politieke retoriek en word daar toegelaat dat ’n platform geskep word waar blatante rasgedrewe- en geweldsuitsprake gemaak word.

“Die negatiewe gevolge vir ekonomiese groei, voedselsekerheid en werkskepping word totaal geignoreer,” sê hy.

VL het sy lede by die verhore in die Vrystaat, op 2, 3 en 4 Julie 2018 in onderskeidelik Botshabelo, Welkom en Phuthaditjhaba, verteenwoordig en die wysiging van Artikel 25 van die Grondwet teengestaan.

“Indien dit (die uitsprake) druk van binne die ANC is om die party te verenig of die EFF te neutraliseer, gaan dit die land baie duur te staan kom.

Deur voortydig die parlementêre hersieningsproses te ignoreer en nie te wag vir die bevinding, skep onsekerheid en wantroue oor die onafhanklikheid van die proses.”

Volgens Wilken bly VL verbind tot ekonomies volhoubare vestiging van nuwe produsente binne die riglyne soos gestel deur die Grondwet. “Ons is primêr voedselprodusente vir ’n al groter verstedelikte bevolking en daarom verwelkom ons enige toetreders tot voedselproduksie en stel ons al ons kennis beskibaar om dit te laat slaag. Die vele plase in die Vrystaat wat aan opkomende produsente toegeken is en wat onproduktief lê, moet so gou moontlik in produksie gestel word.”

Gerhard Kriel, Hoof Uitvoerende Beampte van VL, verwys hoe belangrik die sektor is. “Soos Sisi Ntombela, die Vrystaatse Premier, op 25 Julie 2018 by die Glen-landboukollege buite Bloemfontein uitgewys het, is landbou in die Vrystaat die hoeksteen van ekonomiese groei in die provinsie,” sê hy.

“Ntombela het onder meer gesê ‘sonder landbou is die Vrystaat niks’.”
“Ons wil ons lede versoek om op grondvlak pro-aktief op te tree deur bestaande strukture soos onder andere die Landelike-beveiligingsplan en in samewerking met Suid-Afrikaanse Polisie onwettige besettings te voorkom,” sê Wilken.