Howe bly oop tydens inperking

Hoofregter Mogoeng Mogoeng sê howe bly oop tydens die 21 dae van inperking wat môre om middernag in werking tree.

Hy sê dit sal toegang verseker vir enige dringende sake, insluitend huishoudelike geweld en kinderonderhoud.

Mogoeng sê ook mense mag dalk wil beswaar maak oor die grondwetlikheid van die regerings se huidige maatreëls.

Die hulporganisasie Gift of the Givers versnel sy pogings intussen om meer toetssentrums vir die koronavirus te open na die welslae van die eerste twee in Gauteng.

Die organisasie sê toenemende getalle mense laat hulle toets teen ‘n spesiale aanbod van R750.

Nog ‘n sentrum word die einde van die week in Durban geopen. Stigter Imtiaz Sooliman sê hulle werk hard om die gevaar van verdere besmettings te
verminder.