Ken jy my?

1. Eerste dag by die werk 
My eerste keer in ‘n ateljee was by Ofm. Ek moes uitsaai tussen 00:00 en 02:00.
Ek het ‘n naar kol op my maag gehad, want dit was die eerste keer vandat ek opleiding ontvang het dat ek op die lug sou wees.
Ek het tien minute voor ek moes gaan, opgegooi. Dit was verskriklik. Om te sê ek was angstig, is om dit baie lig te stel.
Ek besluit toe ek gaan my eerste “link” ‘n bietjie oefen. Ek het nooit besef dat ek die mikrofoonknoppie reeds aangeskakel het nie en het myself amper ses keer voorgestel.
My man het my gebel en tot my redding gekom. Hy het gesê ek stel myself die hele tyd voor.
Ek troos myself in die wete dat die meeste mense teen daardie tyd van die aand al geslaap het en dat dié wat wel wakker was, nooit my naam sal vergeet nie.

2. Wat sal jy jou boot noem?
As ek ‘n boot gehad het, sou die naam, “Vasbyt”, wees. Partykeer is die see lekker om op te vaar, ander kere moet jy maar hoop jy kom lewendig aan land.

3. Wat irriteer jou die meeste?
Daar is ‘n paar goed:
As my sonbril aan my hare haak en ek moet die helfte van my hare uittrek om dit los te kry.
Knorrige mense is nogal ‘n irritasie. Dis soos ‘n wolk voor die son.
Ek mors altyd op my as ek wit aanhet. Op ander kleure glad nie.
Mense wat altyd die probleem in plaas van ‘n oplossing sien.

4. Watse vreemde gewoonte het jy?
Ek sal altyd my maag intrek wanneer ek op ‘n skaal staan. Ek glo vas dit help.

5. Daardie een ding wat nie by die werk moes gebeur nie
Dit het darem nog net eenkeer in my radioloopbaan gebeur. Om per ongeluk te vloek op die lug, is baie erg. Dit glip net partykeer uit.