Aanklagte van korrupsie ter waarde van miljoene rand is voorwaardelik teruggetrek teen twee Vrystaatse LUR’e in die hooggeregshof in Bloemfontein.

Die aanklagte teen Mathabo Leeto en Benny Malakoane hou verband met die toekenning van tenders ter waarde van R19 miljoen vir telefoonstelsels, fotokopieermasjiene en kringtelevisiekameras in die Matjhabeng munisipaliteit in Welkom.

Die beweerde korrupsie het in 2009 plaasgevind toe Leeto en Malakoane aan dié munisipaliteit verbonde was.

Malakoane, wat die LUR vir Landbou is, sê hy sal met sy regsverteenwoordiger beraadslaag om uit te vind wat die voorwaardelike terugtrekking van die aanklagte beteken.