Suid-Afrika se koronavirus-dodetal steek die 300-merk verby

Daar is nog 26 Covid-19-sterftes aangemeld in Suid-Afrika.

Die Departement van Gesondheid sê die dodetal weens die virus staan nou op 312.

Die eerste sterfte in die Noord-Kaap is ook aangemeld.

Die aantal bevestigde gevalle het gister met 767 opgeskiet wat die totaal op 17 200 te staan bring.

Nagenoeg 8 000 pasiënte het herstel.

Die bekende ekonoom, Dawie Roodt, sê intussen die regering het geen keuse as om na vlak-3 inperkmaatreëls te verskuif nie.

Die Gautengse premier, David Makhura en sy ampsgenoot in die Wes-Kaap, Alan Winde, het reeds aangekondig dat hulle provinsies gereed is vir vlak-3 inperking.

Dit is die twee provinsies met die grootste aantal Covid-19-infeksies.