Posts

ʼn Groep ANC-oudstryders en veterane sê hulle is met afgryse vervul oor die aanvalle op Pravin Gordhan

ʼn Groep ANC-oudstryders en veterane sê hulle is met afgryse vervul oor die aanvalle op die Minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan.

Daar is toenemende druk op president Cyril Ramaphosa om hom as minister af te dank.

Die groep, wat Frank Chikane en Cheryl Carolus insluit, sê Ramaphosa is die werklike teiken van die ANC-politici en hulle meelopers wat die aanval op Gordhan lei.

Volgens die groep is die stap om die skuld vir die benarde omstandighede by Eskom op Gordhan te plaas agterbaks en oneerlik.

Hulle sê die staatsonderneming gaan gebukkend onder dekades se wanbestuur wat deur staatskaping vererger is.

Tito Mboweni sê hy is oortuig daarvan dat die ANC die verkeerde besluit geneem het om die Reserwebank te nasionaliseer

Die Minister van Finansies, Tito Mboweni, sê hy is oortuig daarvan dat die ANC die verkeerde besluit geneem het om die Reserwebank te nasionaliseer.

Die resolusie is by die regerende party se nasionale konferensie in 2017 aanvaar.

Die bank se mandaat sal ʼn strydvraag wees tydens die ANC se algemene raadsvergadering later vanjaar.

Mboweni sê in ʼn Twitter-boodskap dat 90% van die sentrale bank se winste oorbetaal word aan die Nasionale Staatsinkomstefonds en daarom sal die land eers moet besin oor wat hy wil bereik met die nasionalisering.