Posts

Mmusi Maimane kan ʼn regsgeding in die gesig staar deur voormalige Kaapstadse Raadslede

Mmusi Maimane kan ʼn regsgeding in die gesig staar deur voormalige Kaapstadse Raadslede

Die DA-leier, Mmusi Maimane, het grasie tot sesuur vandag om die vyf voormalige Kaapstadse raadslede om verskoning te vra of die gevolge van ʼn regsgeding te dra.

In sy weeklikse nuusbrief het Maimane die raadslede van wanadministrasie beskuldig.

Shaun August, Suzette Little, Siya Mamkeli, Thulani Stemele en Greg Barnardo het verlede week uit die raad bedank in samehorigheid met die uittredende burgemeester, Patricia de Lille.

August sê Maimane het onwaar en lasterende beweringe teen hulle gemaak.

DA vra deeglike ondersoek na moord op een van Estina-begunstigdes

DA vra deeglike ondersoek na moord op een van Estina-begunstigdes

Die DA in die Vrystaat het ‘n dringende beroep op die polisie gedoen vir ‘n deeglike ondersoek na die moord op een van die verontregte begunstigdes in die omstrede Estina-suiwelprojek by Vrede.

Philemon Ngwenya se lyk is Vrydaoggend in ‘n plas bloed aangetref op munisipale grond by Vrede waar hy boer.

Hy is vermoedelik met ‘n stomp voorwerp doodgeslaan. Ngwenya het hom sterk teen die kaping van die projek uitgespreek.

Die leier van die DA in die Vrystaat, Patricia Kopane, sê die DA is bewus van ‘n stemopname wat onlangs rondgestuur is dat begunstigdes van die projek vermoor moet word.

Die DA beskuldig die Mangaung Metro dat hy inwoners van dorpe in die Naledi plaaslike munisipaliteit afskeep

Die DA beskuldig die Mangaung Metro dat hy inwoners van dorpe in die Naledi plaaslike munisipaliteit afskeep

Die DA in die Vrystaat het die Mangaung Metro daarvan beskuldig dat hy inwoners van dorpe in die Naledi plaaslike munisipaliteit afskeep.

Die dorpe, Dewetsdorp, Wepener en Vanstadensrus, is ná die plaaslike verkiesing in 2016 by die Mangaung Metro ingelyf.

Die DA sê basiese dienslewering het sedertdien feitlik ineengestort.

‘n DA-raadslid in die Mangaung Metro, Maryke Davies, het ‘n beroep op die Metro gedoen om dienslewering aan sy streekkantore te desentraliseer.

Die DA vra die SAUK om die Staatskapingskommissie se verhoor uit te saai

Die DA vra die SAUK om die Staatskapingskommissie se verhoor uit te saai

Die DA het die SAUK-raad se voorsitter, Bongumusa Makhathini, versoek dat die verhore van die Zondo-kommissie na staatskaping direk deur die openbare uitsaaier oor radio en televisie uitgesaai word.

Die party sê die meerderheid Suid-Afrikaners kry slegs onregstreekse dekking van die verhoor.

Die DA voel dat elke Suid-Afrikaner verdien om die volgende weke se getuienis te hoor, oor hoe die Guptas met oudpresident Jacob Zuma saamgesweer het om die staat te kaap en sy hulpmiddele te plunder.

DA wil volledige besonderhede hê oor die Sjinese lening aan Suid-Afrika

DA wil volledige besonderhede hê oor die Sjinese lening aan Suid-Afrika

Die DA sê hy gaan parlementêre vrae aan die presidensie en die minister van Finansies, Nhlanhla Nene, stel om volle besonderhede te verkry van die bepalings gekoppel aan die lening van R370 miljard wat president Cyril Ramaphosa met Sjina onderhandel het.

Die party sê die jongste berigte dui daarop dat die Sjinese regering die multimiljard Rand-lening toegestaan het as ʼn soort van aansporingspakket vir die land.

Die DA het gewaarsku dat die land in ʼn skuldlokval kan beland as hy nie die terugbetalings kan bekostig nie.