Posts

ANC-raadslede van die Mangaung-metro behoorlik die kop gewas

ANC-raadslede van die Mangaung-metro is glo behoorlik deur die Provinsiale Uitvoerende Komitee van die ANC oor swak dienslewering die kop gewas.

Netwerk24 berig dat daar egter steeds geen duidelikheid is oor die pos van die metro-burgemeester, Olly Mlamleli nie.

Faksiegevegte in die metro het die laaste ruk só handuit geruk oor Mlamleli dat een faksie Vrydag ’n raadsvergadering geboikot het.

Daar is vroeër berig dat die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, self die uittrap-sessie sou hanteer, maar raadslede is gister vyf uur lank deur die PUK die leviete voorgelees.

Volgens ‘n ingeligte bron is raadslede gewaarsku om saam te staan en gedreig dat hulle summier afgedank sal word as hulle met die media praat.