Posts

Twee verdagtes in hof in verband met moord op bekende advokaat

Twee verdagtes in hof in verband met moord op bekende advokaat

Twee verdagtes sal na verwagting vandag in die Kaapstadse Landdroshof verskyn in verband met eergister se moord op die plaaslike advokaat, Pete Mihalik, voor sy kinders se skool.

Die polisie het bevestig dat twee persone, onderskeidelik 26 en 31 jaar oud, in hegtenis geneem is.

Mihalik se agtjarige seun is in die voorval gewond, terwyl sy 17-jarige dogter ongedeerd daarvan afgekom het.

Kaapstad lê klagtes teen Patricia de Lille

Kaapstad lê klagtes teen Patricia de Lille

Die stad Kaapstad se speaker, Dirk Smit, het strafregtelike klagtes teen burgemeester Patricia de Lille en die burgemeesterskomiteelid, Brett Herron, aanhangig gemaak.

De Lille sal na verwagting vandag die amp ontruim.

Volgens TimesLive is die klagtes ingedien nadat die raad twee verslae van ʼn regsfirma oor die wanbestuur van die metro aanvaar het.

De Lille sal na verwagting vanmiddag ʼn aankondiging doen oor die jongste verwikkelinge.

Haar opvolger, Dan Plato, sal na verwagting oormôre beëdig word.

Bekende advokaat is in Kaapstad vermoor

Bekende advokaat is in Kaapstad vermoor

ʼn Bekende verdedigingsadvokaat is vandag buite die Reddam House School in Groenpunt, Kaapstad doodgeskiet.

Dit het gebeur terwyl hy besig was om sy agtjarige seun by die skool af te laai.

Die advokaat is glo Pete Mihalik, wat van die voorste bendelede in hofsake verteenwoordig het.

Die polisie se Noloyiso Rwexana sê speurders van die teen-bende-eenheid en misdaadtoneel-deskundiges van die SAPD is besig om die toneel te fynkam vir leidrade.

Patricia de Lille sê sy sal voortgaan om haar naam te suiwer

Patricia de Lille sê sy sal voortgaan om haar naam te suiwer

Die uittredende burgemeester van Kaapstad, Patricia de Lille, sê sy gaan nie toelaat dat enigiemand haar naam beswadder nie.

Sy stamp kop met haar party, die DA, oor beweringe van nepotisme, korrupsie en ʼn spul ander onreëlmatighede.

De Lille het vandag in ʼn toespraak aan die raad gesê sy sal die twee forensiese ondersoekverslae van Bowmans betwis.

Die een verklaar dat sy aangekla moet word van wangedrag en die ander gee die skuld vir die stadsbestuurder.

De Lille sê sy sal nie breek en ingee onder die heftige en rassistiese geboelie nie.

Die DA se hoofsweep, Shaun August, en nog vier Kaapstadse raadslede het ter ondersteuning van De Lille bedank.

Verhoor van Kaapstadse man weens die moord op sy dwelmverslaafde seun begin vandag

Verhoor van Kaapstadse man weens die moord op sy dwelmverslaafde seun begin vandag

Die verhoor van ʼn man van Kaapstad in verband met die moord op sy dwelmverslaafde seun, begin vandag in die Mitchellspleinse Streekhof.

Die 62-jarige Sedick Abrahams word daarvan aangekla dat hy die 28-jarige Clinton in Januarie tydens ʼn argument in hul huis doodgesteek het.

Hy voer aan dat hy uit noodweer opgetree het.

Die saak herinner aan dié van Ellen Pakkies, ook van Kaapstad, wat haar tik-verslaafde seun, Abie, in 2007 verwurg het.

Sy is skuldig bevind aan moord en het ʼn opgeskorte vonnis en gemeenskapsdiens ontvang.

ʼn Rolprent oor Pakkies se storie word tans landswyd in teaters vertoon.

 

Gemeenskappe op die Kaapse Vlakte betoog teen bendegeweld en werkloosheid

Gemeenskappe op die Kaapse Vlakte betoog teen bendegeweld en werkloosheid

Die polisie in Kaapstad het rubberkoeëls en skokgranate in verskeie gebiede, insluitend Kensington en Bonteheuwel, gebruik om betogers uiteen te jaag.

Inwoners van verskeie woonbuurte het die strate ingevaar om te betoog teen bendegeweld en hoë vlakke van werkloosheid.

Die stad se JP Smith sê die betogings is onwettig.

Kaapstad: 511 sterftes as gevolg van brande

Kaapstad: 511 sterftes as gevolg van brande

Die stad Kaapstad sê daar was die afgelope drie en ʼn half jaar 511 sterftes as gevolg van brande.

Brande by formele woonhuise het die afgelope jaar met meer as 10% toegeneem, terwyl veldbrande in dieselfde tydperk met 10% afgeneem het.

Die stad se JP Smith doen ʼn beroep op die publiek om saam te werk en ten alle tye ontvlambare stowwe versigtiger te hanteer.