Posts

Oproepe dat Malusi Gigaba afgedank moet word

Oproepe dat Malusi Gigaba afgedank moet word

Die vakbondfederasie, Cosatu, het ʼn beroep op president Cyril Ramaphosa gedoen om die minister van Binnelandse Sake, Malusi Gigaba, af te dank omdat hy volgens hulle ʼn las en verleentheid vir beide die Regering en die ANC geword het.

Dit volg ná gister se bevinding deur die openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, dat Gigaba nie alleen die uitvoerende etiese kode nie, maar ook die Grondwet oortree het, deur ʼn leuen onder eed te vertel.

Dit hou verband met die saak waarby die Oppenheimer-familie se privaat terminaal by die OR Tambo Internasionale Lughawe betrek word.

Cosatu sê sommige van die lede van die kabinet is nie alleenlik korrup nie, maar ook ontsettend onbevoeg en onervare en hulle maak ʼn gemors van alles.

Die EFF het ook ʼn beroep op Ramaphosa gedoen om Gigaba onmiddellik af te dank.

Die EFF-woordvoerder, Mbuyiseni Ndlozi, daar is niks erger as om onder eed te lieg nie.

Malusi Gigaba gaan nie bedank oor die uitgelekte intieme video nie

Malusi Gigaba gaan nie bedank oor die uitgelekte intieme video nie

Die minister van Binnelandse Sake, Malusi Gigaba, gaan nie bedank oor die intieme video wat hy sê gebruik word om hom mee af te pers nie.

Gigaba het gister sy familie, kollegas en die land voorlopig om verskoning gevra oor die video wat hy beweer deur ʼn kuberkraker van sy foon af gesteel is.

Hy het daarvan bewus geword toe die beweerde afpersers gedreig het om die video vry te stel.

Gigaba se woordvoerder oor die kwessie, Vuyo Mkize van die maatskappy Kapital Mindz, sê Gigaba is die slagoffer van ʼn smeerveldtog om hom polities in onguns te bring.

Binnelandse Sake vereenvoudig die reisreëls vir buitelandse minderjariges

Binnelandse Sake vereenvoudig die reisreëls vir buitelandse minderjariges

Die minister van Binnelandse Sake, Malusi Gigaba, sê hulle is besig om die reëls oor reisende minderjariges uit die buiteland te vereenvoudig, om ontwrigting vir wettige reisigers te beperk.

Ramaphosa het die veranderinge goedgekeur in ʼn poging om toerisme ʼn hupstoot te gee en sakereise te vergemaklik.

Gigaba het vandag tydens ʼn mediavoorligting oor die wysiging van visa-regulasies in Pretoria gesê ʼn internasionale reisinligtingstuk sal volgende maand uitgereik word.

Gigaba sê hulle is besig om onderhandelinge met lande soos Kuba, die Palestynse Staat, die Verenigde Arabiese Emirate, Ghana, Koeweit en Marokko af te handel met die oog op ooreenkomste vir die afstanddoening van visas.

Hy sê hy is ook besig om visa-vereistes vir lande soos Indië en Sjina te vereenvoudig.