Posts

ANC-raadslede van die Mangaung-metro behoorlik die kop gewas

ANC-raadslede van die Mangaung-metro is glo behoorlik deur die Provinsiale Uitvoerende Komitee van die ANC oor swak dienslewering die kop gewas.

Netwerk24 berig dat daar egter steeds geen duidelikheid is oor die pos van die metro-burgemeester, Olly Mlamleli nie.

Faksiegevegte in die metro het die laaste ruk só handuit geruk oor Mlamleli dat een faksie Vrydag ’n raadsvergadering geboikot het.

Daar is vroeër berig dat die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, self die uittrap-sessie sou hanteer, maar raadslede is gister vyf uur lank deur die PUK die leviete voorgelees.

Volgens ‘n ingeligte bron is raadslede gewaarsku om saam te staan en gedreig dat hulle summier afgedank sal word as hulle met die media praat.

Bloemfonteinse laerskool het weer water na hofbevel

Die laerskool Fichardtpark in Bloemfontein het weer water nadat die Mangaung-metro deur middel van ‘n tussentydse hofbevel gedwing is om die skool se krane weer oop te draai.

Netwerk24 berig dat diè skool een van meer as 92 skole is in die bedieningsgebied van die metro waarvan die watertoevoer weens munisipale skuld afgesny is in die laaste week.

Volgens Netwerk24 is die waterrekening tot op datum betaal, maar die erfbelasting is agterstallig.

Jaco Deacon, van die Federasie van Beheerliggaame van Suid-Afrikaanse skole, en voorsitter van die skool se beheerliggaam sê, die erf waarop die skool geleë is behoort aan die Vrystaatse departement van openbare werke, en is diè departement verantwoordelik vir die erfbelasting.

Die hofbevel is van krag tot 07 Oktober wanneer die skool en sy beheerliggaam gaan aansoek doen dat die besluit ter syde gestel word.

Die Mangaung-metro se verslegtende geldelike situasie is die rede waarom die metro deur Moody’s afgegradeer is

Die Mangaung-metro se verslegtende geldelike situasie is die rede waarom die metro deur Moody’s afgegradeer is.

Netwerk24 berig Mangaung is met drie kerwe deur die internasionale kredietgradeerder afgradeer nadat sy geldelike verknorsing verdiep het.

Mangaung bestaan uit die munisipaliteite van Bloemfontein, Botshabelo, Thaba Nchu, Dewetsdorp, Wepener, Van Stadensrus en Soutpan.

Sowel die DA as die VF Plus en die EFF het gister gesê dié afgradering, die uiteinde van die hersiening van die gradering wat 2 Mei begin het, is geen verrassing nie.

Die voorlopige resultate vir 2019 toon dat Mangaung se kontant tot R131 miljoen van R289 miljoen in 2018 gedaal het.

Die byna bankrot Mangaung-metro se peperduur metropolisiehoof sê hy is nie ‘n super-spioen vir Ace Magashule nie

Die byna bankrot Mangaung-metro se peperduur metropolisiehoof sê hy is nie ‘n super-spioen vir Ace Magashule nie.

Netwerk24 berig Israel Kgamanyane is al langer as ‘n jaar die metropolisiehoof sonder dat daar enige metropolisiemag op die been gebring is.

Sy salaris beloop R1 miljoen per jaar sonder dat daar sekerheid is oor presies wat hy tans doen.

Gerugte doen die rondte dat hy juis by Mangaung is om te spioeneer vir die Vrystaatse kamp van Ace Magashule, sekretaris-generaal van die
ANC, en om ontslae te raak van bewyse van ongerymdhede deur politici in dié kamp.

Volgens Kgamanyane is hy ’n professionele amptenaar en gaan hy nie langer sy asem mors oor bewerings dat hy vir Magashule spioeneer nie.