Posts

Twee verdagtes in hof in verband met moord op bekende advokaat

Twee verdagtes in hof in verband met moord op bekende advokaat

Twee verdagtes sal na verwagting vandag in die Kaapstadse Landdroshof verskyn in verband met eergister se moord op die plaaslike advokaat, Pete Mihalik, voor sy kinders se skool.

Die polisie het bevestig dat twee persone, onderskeidelik 26 en 31 jaar oud, in hegtenis geneem is.

Mihalik se agtjarige seun is in die voorval gewond, terwyl sy 17-jarige dogter ongedeerd daarvan afgekom het.

Trump beskryf die moord op Jamal Khashoggi as die swakste toesmeerdery in die geskiedenis

Trump beskryf die moord op Jamal Khashoggi as die swakste toesmeerdery in die geskiedenis

Die VSA-president, Donald Trump, het die moord op en gevolglike toesmeerdery van die dood van die Saoedi-gebore joernalis, Jamal Khashoggi, in Turkye as ʼn fiasko beskryf.

Hy het met die Saoedi-Arabiese kroonprins, Mohammed bin Salman, gepraat nadat Turkye die Saoedi’s van die moord met voorbedagte rade beskuldig het.

Gister is berig dat Khashoggi se liggaamsdele in die tuin van die Saoedi-konsul-generaal se huis in Istanboel gevind is.

Volgens CNN het Trump die land se jarelange vriend gekritiseer vir een van die swakste gevalle van toesmeerdery in die geskiedenis.

Intussen het die Verenigde State die visums van 21 Saoedi’s ingetrek wat na bewering by die moord betrokke was.

Die regspan van Joao Roderiques voer aan waarom hy nie vervolg moet word nie

Die regspan van Joao Roderiques voer aan waarom hy nie vervolg moet word nie

Die regspan van Joao Roderiques sal vandag redes aan die Suid-Gautengse Hooggeregshof moet verskaf oor waarom hul kliënt nie vir die moord op die anti-apartheidsaktivis, Ahmed Timol vervolg moet word nie.

Die 80-jarige Rodrigues, wat ‘n sersant in die gewese veilligheidspolisie was, staan tereg op aanklagte van moord en regsverydeling.

Die Noord-Gautengse Hooggeregshof het in 2017 bevind dat Timol 47 jaar gelede deur beamptes van die veiligheidspolisie vermoor is.

Timol se familie sê vandag se beslissing is belangrik in die lig van ander soortgelyke sake wat moontlik heropen kan word.

Kriminoloog sê polisielede het ʼn baie groter kans om in ʼn motorongeluk te sterf as om vermoor te word

Kriminoloog sê polisielede het ʼn baie groter kans om in ʼn motorongeluk te sterf as om vermoor te word

ʼn Kriminoloog sê moord hou nie die grootste gevaar vir polisiebeamptes se lewens in nie en moet nie gebruik word om die misbruik van mag te regverdig nie.

Altesaam 28 SAPD-lede is in die 2017/18 finansiële jaar aan diens vermoor.

Die Instituut van Sekerheidstudies se Andrew Faull sê die lede van die Suid-Afrikaanse Polisie staan ʼn aansienlik kleiner kans om vandag vermoor te word, as dertig jaar gelede.

Faull sê die mees algemene oorsaak van dood onder polisiebeamptes is motorongelukke wanneer hulle van diens is, só die maklikste manier om polisielewens te red is om hul bestuursgewoontes en -vermoë op die pad te verbeter.

 

Die voorverhoor in die Ahmed Timol-moordsaak begin in Johannesburg

Die voorverhoor in die Ahmed Timol-moordsaak begin in Johannesburg

Die voorverhoor in die Ahmed Timol-moordsaak begin vandag in die Johannesburgse Hooggeregshof.

Die voormalige polisiebeampte, Jan Rodrigues, word aangekla van die moord op die teen-apartheidsaktivis by die John Vorster Plein-polisiestasie in die stad amper 47 jaar gelede.

Timol is in Oktober 1971 dood en Rodrigues was glo in die ondervragingskamer op die 10de vloer vanwaar hy na sy dood geval het.

Ondersoeke het in daardie stadium bevind dat hy sy eie lewe geneem het, maar die hof het laasjaar beslis dat hy vermoor is.

17-jarige leerder in die hof oor moord op onderwyser

17-jarige leerder in die hof oor moord op onderwyser

ʼn 17-jarige leerder wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op ʼn wiskundeonderwyser van Noordwes sal na verwagting vandag in die hof verskyn.

Volgens die polisie het die leerder by die klaskamer ingestap en die onderwyser toe hy vanaf die swartbord omgedraai het, in die bors gesteek, sonder om iets te sê.

Die onderwysersvakbond, Sadou, het ʼn beroep op die Departement van Onderwys gedoen om seker te maak dat skole veilig is.