Posts

Vrese dat die Vrystaat onder administrasie geplaas mag word

Vrese dat die Vrystaat onder administrasie geplaas mag word

Die voormalige Vrystaatse premier, Ace Magashule, word beskuldig van wanbestuur te midde van vrese dat die provinsie onder administrasie geplaas gaan word as gevolg van die droewige toestand van sy finansies.

ʼn Senior ANC-leier in die provinsie het aan City Press gesê dat ʼn verslag oor die toedrag van sake vir die party se nasionale amptenary voorberei word, met die oog daarop om die provinsie onder administrasie te plaas.

Besonderhede word na bewering dig gehou te midde van vrese dat ʼn onthulling die ANC kan skaad voor volgende jaar se algemene verkiesing.

Intussen sê die DA dat onthullings dat die ANC na bewering voordeel ten bedrae van twee miljoen Rand ontvang het deur ʼn sogenaamde skenking vanaf VBS Mutual Bank, vir hul verkiesingsveldtog, die ware aard van die regerende party skets.

Die opposisie sê dit blyk of president Cyril Ramaphosa se onderneming om korrupsie uit te roei steeds geveins is met nóg leë beloftes vanaf ʼn mislukte ANC wat by die armes en swakkes steel om hulself te verryk.

Die DA sê dit is tyd dat Ramaphosa onmiddellik en beginselvas optree.

DA vra deeglike ondersoek na moord op een van Estina-begunstigdes

DA vra deeglike ondersoek na moord op een van Estina-begunstigdes

Die DA in die Vrystaat het ‘n dringende beroep op die polisie gedoen vir ‘n deeglike ondersoek na die moord op een van die verontregte begunstigdes in die omstrede Estina-suiwelprojek by Vrede.

Philemon Ngwenya se lyk is Vrydaoggend in ‘n plas bloed aangetref op munisipale grond by Vrede waar hy boer.

Hy is vermoedelik met ‘n stomp voorwerp doodgeslaan. Ngwenya het hom sterk teen die kaping van die projek uitgespreek.

Die leier van die DA in die Vrystaat, Patricia Kopane, sê die DA is bewus van ‘n stemopname wat onlangs rondgestuur is dat begunstigdes van die projek vermoor moet word.

Die DA beskuldig die Mangaung Metro dat hy inwoners van dorpe in die Naledi plaaslike munisipaliteit afskeep

Die DA beskuldig die Mangaung Metro dat hy inwoners van dorpe in die Naledi plaaslike munisipaliteit afskeep

Die DA in die Vrystaat het die Mangaung Metro daarvan beskuldig dat hy inwoners van dorpe in die Naledi plaaslike munisipaliteit afskeep.

Die dorpe, Dewetsdorp, Wepener en Vanstadensrus, is ná die plaaslike verkiesing in 2016 by die Mangaung Metro ingelyf.

Die DA sê basiese dienslewering het sedertdien feitlik ineengestort.

‘n DA-raadslid in die Mangaung Metro, Maryke Davies, het ‘n beroep op die Metro gedoen om dienslewering aan sy streekkantore te desentraliseer.