Posts

Die Hooggeregshof in Bloemfontein het die Mangaung Metro bloedneus gegee rakende sy skielike besluit om skole se water af te sny

Die Hooggeregshof in Bloemfontein het die Mangaung Metro bloedneus gegee rakende sy skielike besluit om skole se water af te sny.

Die hof het die metro gelas om onmiddellik die watertoevoer na sowat 100 skole in die gebied te herstel.

Die Metro het verlede maand die water afgesny, omdat die skole hulle geld skuld.

Die skole se agterstallige skuld aan die munisipaliteit beloop sowat R70 miljoen.

Die Vrystaatse onderwysdepartement het ‘n dringende aansoek by die hof ingedien om die Metro te dwing om die water weer aan te sluit.

Die departement het die hofbevel verwelkom.

Bloemfonteinse laerskool het weer water na hofbevel

Die laerskool Fichardtpark in Bloemfontein het weer water nadat die Mangaung-metro deur middel van ‘n tussentydse hofbevel gedwing is om die skool se krane weer oop te draai.

Netwerk24 berig dat diè skool een van meer as 92 skole is in die bedieningsgebied van die metro waarvan die watertoevoer weens munisipale skuld afgesny is in die laaste week.

Volgens Netwerk24 is die waterrekening tot op datum betaal, maar die erfbelasting is agterstallig.

Jaco Deacon, van die Federasie van Beheerliggaame van Suid-Afrikaanse skole, en voorsitter van die skool se beheerliggaam sê, die erf waarop die skool geleë is behoort aan die Vrystaatse departement van openbare werke, en is diè departement verantwoordelik vir die erfbelasting.

Die hofbevel is van krag tot 07 Oktober wanneer die skool en sy beheerliggaam gaan aansoek doen dat die besluit ter syde gestel word.