VF Plus Vrede-Suiwel: NVG se besluit skep indruk van politieke beskerming en inmenging

Vrede-Suiwel: NVG se besluit skep indruk van politieke beskerming en inmenging

Die besluit deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) om klagtes teen alle beskuldigdes van die Vrede-Suiwelsage te laat vaar, skep die indruk dat daar politieke inmenging en beskerming in die ondersoek bestaan.

Die VF Plus vind die verskoning deur die NVG, dat hy gesukkel het om samewerking van Indiese- en Arabiese Verenigde Emirate-owerhede te kry, vreemd aangesien prominente figure in die Vrystaatse regering in hegtenis geneem is.

Op die oog af was die vervolging gebou op sterk bewyse. Die feit dat die voormalige hoof van die Vrystaatse departement van landbou, Peter Thabete en die Finansiële hoof, Sylvia Dlamini in hegtenis geneem is, sou beteken dat die NVG se klagtes op sterk bewyse gegrond sou wees.
Die vraag is nou of die ondersoek nie deeglik gedoen is nie, of dat daar moontlik politieke faktore bestaan wat die vervolging van die beskuldigdes beinvloed.

Die ondersoek na staatskaping ontwikkel toenemend ‘n geur van politieke inmenging. Die voormalige Vrystaatse premier, Ace Magashule, is nog nie versoek om voor die Zondo-kommissie van ondersoek te verskyn nie. Intussen word Magashule gereeld geïmpliseer by ongerymdhede waar die Gupta-familie betrokke was.

Die VF Plus sal die besluit deur die NVG bestudeer en verdere stappe oorweeg. Om te verseker dat ‘n deeglike ondersoek na staatskaping gedoen word, sal die VF Plus ook die Regter Rayond Zondo amptelik versoek om Magashule voor dié kommissie te laat getuig om bewerings van staatskapery in onder meer die Vrystaat te verduidelik.

Staatskaping en gevolglike politieke beskerming aan individue wat moontlik daarby betrokke was, is ernstige bewerings. Dit sal fataal wees as prominente politici en amptenare nie weens swak ondersoeke of inmenging op politieke vlak nie vervolg word.

Die VF Plus sal aanhou terugslaan teen die ANC se korrupte misbruik van die Vrystaat se bronne. In 2019, meer as ooit, het kiesers ook die geleentheid om die plundering van die Vrystaat by die stembus te stuit.