Die dodetal ná die ineenstorting van ‘n gebou in George het tot sewe gestyg nadat nog ‘n liggaam in die puin gevind is. Reddingsoperasies het deur die nag voortgeduur in ‘n poging om die oorblywende 39 werkers te vind.
Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde het by ‘n mediakonferensie gesê ‘n ondersoek na die oorsaak van die ineenstorting het reeds begin en sal gedoen word deur ‘n onafhanklike ingenieur, die polisie en die Departement van Arbeid.
Dokumentasie oor die onwikkeling is in Desember 2022 by die munisipaliteit van George ingedien en die planne is in Julie verlede jaar goedgekeur. Die ontwikkeling het bestaan uit ‘n vierverdieping woonstelgebou, parkering en ‘n kelder.