Individue in Israel wat volksmoord of geweld teen Palestyne aanhits, sal vir strafregtelike vervolging ondersoek word. So het Ronald Lamola, minister van Justisie, gister tydens ‘n mediakonferensie gesê. Die hofuitspraak in die Wêreldhof Vrydag is ‘n groot besprekingspunt op die ANC se Nasionale Uitvoerende Komotee-vergadering wat Vrydag in Boksburg begin het en tot vandag plaasvind. Die hof het beslis Suid-Afrika het ‘n prima facie saak teen Israel vir volksmoord op die Palestyne hoewel ‘n skietstaking nie toegestaan is nie.
Lamola het volgens Netwerk 24 gesê die hofbeslissing kom eintlik op ‘n skietstaking neer. Die ANC se adjunk-sekretaris-generaal, Nomvula Mokonyane, het gesê die ANC se volgende stap is die versterking van solidariteit met Palestina. Oor dreigemente dat die hofuitspraak ekonomiese gevolge vir Suid-Afrika kan inhou, het Mokonyane gesê Suid-Afrika is nie bedelaars nie en het ander internasionale vriende om armoede en werkloosheid te beveg en die ekonomie te laat groei.