‘n Groep Franse boere het die naweek ‘n groot landbouskou ontwrig en op die terrein toegesak voor ‘n beplande besoek van pres Emmanuel Macron. Die betogende boere was vroeër vanjaar in die nuus toe hulle paaie om die Franse hoofstad met trekkers geblokkeer het.
Die groep boere het volgens Reuters weer gister by die landbouskou hul ontevredenheid oor hoë kostes, rompslomp en groenregulasies uitgespreek. Tientalle polisiebeamptes het die skare probeer beheer terwyl die boere geskree en owerhede uitgejou het. Hulle het ook die bedanking van Macron geëis. Minstens een betoger is in hegtenis geneem. Macron het na ‘n vergadering met die boere se vakbondleiers gesê dit help nie die boere breek stalletjies op en keer dat die skou voortgaan nie.
Macron het gesê hy sal oor drie weke weer met belanghebbendes van die landbousektor vergader. Die Parys se landbouskou word oor nege dae gehou en lok sowat 600-duisend besoekers. Die betogings van boere het intussen oor groot dele van Europa versprei. Die boere wil druk op hul regerings plaas dat meer hulp aan die bedryf verleen word.