Suid-Afrikaners sal binnekort die presiese besonderhede weet van al Eskom se kontrakte met sy verskaffers van steenkool en diesel aook dié met buurlande. Die hooggeregshof in Pretoria het Vrydag beveel dat alle inligting aan Afriforum bekend gemaak moet word. Dit nadat Eskom blykbaar sy kontrakte geheim wou hou.
Maroela Media berig Afriforum het die kontrakte reeds in Julie 2022 aangevra toe ‘n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, of PAIA, ingedien is. Afriforum vermoed inligting vervat in die kontrakte kan moontlik onreëlmatighede en korrupsie by die kragvoorsiener ontbloot.