Die saak teen 65 verdagtes wat daarvan beskuldig word dat hulle die Julie 2021-onrus in KwaZulu-Natal aangehits het, is uitgestel.
Dit is om die beskuldigdes tyd te gun om regsverteenwoordiging te finaliseer. Die onrus het tot meer as 350 sterftes gelei en enorme skade is aan geboue en ander infrastruktuur aangerig. Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag het die beskuldigdes verskeie misdade teen die staat gepleeg.
Hulle word onder meer aangekla van sameswering om moord te pleeg, asook terrorisme. ’n Woordvoerder van die NVG, Natasha Ramkissoon-Kara, sê die saak is vir April op die hofrol geplaas.
Die onluste het met die inhegtenisneming van oudpresident Zuma saamgeval. Volgens ‘n verslag is daar nie met die spesiale ondersoek bewyse gevind dat sy inhegtenisneming die rede vir die onluste was nie.