Minstens 78 mense is gister dood in ‘n stormloop in die hoofstad van Jemen.
Reuters berig daar was ‘n reuse stormloop toe honderde mense in Sanaa saamgedrom het om skenkings ter waarde van nege dollar per persoon te ontvang.
Vroue en kinders is onder die oorledenes en meer as 322 mense is beseer.
Volgens ooggetuies het gewapende Houthi’s skote in die lug afgevuur om die skare te probeer beheer.
‘n Ontploffing, wat tot grootskaalse paniek gelei het, het gevolg toe ‘n elektriese draad getref is.
Mense het bo-oor mekaar geklim om te probeer wegkom.
Jemen is reeds vir agt jaar in ‘n bloedige burgeroorlog gewikkel.
Tienduisende mense is reeds in die oorlog dood.
Daar is landwye hongersnood in Jemen, en die ekonomie hier het heeltemal in duie gestort.