7’S RUGBY – Die Suid-Afrikaanse vroue-sewesspan se huidige afrigter Renfred Dazel sal ten minste nog tot aan die einde van April die nasionale span brei.
SARU het bekendgemaak dat Dazel – ’n voormalige Blitsbok – die dames sal afrig tot na die Wêreldrugby se uitdaagreeks wat in die Eikestad plaasvind. Hy het verlede jaar oorgeneem by Paul Delport wat na afloop van die sewes-toernooi in Kaapstad die handdoek ingegooi het toe die span al 5 wedstryde verloor het.
12 vroue spanne sal mekaar in Stellenbosch die stryd aansê ter voorbereiding van die Wêreldreeks wat ook aanstaande jaar plaasvind.
Die nasionale span sal ook later vanjaar aan die Afrika-sewestoernooi deelneem waar die wenner kwalifiseer vir deelname aan die Olimpiese Spele volgende jaar in Frankryk.
Die Uitdaagreeks bestaan uit twee toernooie met die eerste een wat geskeduleer is vir 20 tot 22 April met die tweede een wat die daaropvolgende naweek sal volg.