Om ‘n verhoogproduksie met meer as 900 akteurs op die planke te bring mag dalk raar klink, maar dit is waar vir Willem Postma Primêr in Bloemfontein.

Dié skool roep elke ses jaar ‘n reuse-teaterproduksie in die lewe en sal die komende naweek die Sand du Plessis-teater se planke behoorlik laat dreun.

Die oorgrote meerderheid van die honderde akteurs is leerlinge van die skool en selfs die skoolhoof, Jaco Kotzé, gaan die toneel-waters toets.

Hierdie eiesoortige musiekblyspel se naam is Sirkus, en letterlik elke leerling van graad een tot sewe is by dié produksie betrokke.

Die teks en liriek is deur die bekroonde jeuskrywer, Jaco Jacobs, behartig.

Anton Esterhuyse het die oorspronklike musiek gekomponeer en Xander Steyn is die choreograaf.

Die vertonings is Vrydag om ses-uur die aand en Saterdag om half-drie die middag en weer om ses-uur die aand.

Kaartjies vir dié luisterryke skouspel is by Pacofs te koop.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×